Djokovic wil nou in Laver se voetspore volg
2012-01-30 21:27
MELBOURNE. – Rod Laver was die laaste mans-tennisspeler wat die Grand Slam in 1969 voltooi het en ná Novak Djokovic se merkwaardige oorwinning in die eindstryd van die Australiese Ope, lyk dit of dié Serwiër volgende kan wees.
Laver was gisteroggend vroeg ’n toeskouer op Melbourne Park toe Djokovic sy vierde Grand Slam-titel in die afgelope 12 maande gewen het.
As sy ongelooflike spelpeil kan voortduur en hy die Franse Ope in Junie wen, sal hy al vier Grand Slam-titels gelyktydig hou.
Om die ware Grand Slam te kan verower, deur al vier in een kalenderjaar te wen, sal hy ook sy titels in die Wimbledon-toernooi en Amerikaanse Ope moet behou.
Daar is talle wat glo Djokovic kan regkry wat Rafael Nadal en Roger Federer nie kon doen nie, nadat hy ’n stryd van 5 uur en 53 minute oorleef het om Nadal hier in die eindstryd te troef.
“Jy verkeer in pyn en jy probeer jou bene aan die beweeg kry. Jy dryf jouself vir nog een punt, net nog een punt, net nog een pot,” het hy gesê.
Belangrike oorwinnings spoor Djokovic aan tot groter hoogtes.
Nadat hy die Davisbeker in 2010 vir Serwië help wen het, het hy daarna 43 agtereenvolgende oorwinnings behaal en is hy eers in die halfeindronde van verlede jaar se Franse Ope, deur Federer, gestuit.
Verlede jaar het hy 10 toernooie gewen, 70 wedstryde gewen en net 6 verloor, al het hy sedert September met beserings gesukkel.
Nou is sy visier gerig op die Franse Ope, die enigste van die grotes wat hom nog ontwyk.
“Die Grand Slam-toernooie is vanjaar my prioriteit, asook die Olimpiese Spele,” het hy gesê.
“Ek wil die eerste keer die eindstryd in Parys haal en het ’n gevoel ek is reg om dit te doen.”
Die eindstryd teen Nadal het gewys Djokovic het die vermoë om staande te bly in ’n kwaai stryd – iets wat vroeër betwyfel is, aangesien daar geglo is hy trek kleinkoppie in die groot wedstryde.
“’n Paar jaar gelede het ek die meeste van die halfeind- en eindstryde teen Rafa en Roger verloor, so ek weet hoe dit voel.
“Ek is opreg as ek sê dis jammer daar kon net een wenner in hierdie eindstryd wees. Ons het albei ons beste tennis gespeel en ons alles gegee tot die laaste oomblik.”
Djokovic het gesê dit gee ekstra betekenis aan die oorwinning omdat dit voor Laver was.
“Ek is baie trots om deel van hierdie geskiedenis te kan wees en een van die spelers te wees wat dié toernooi ’n paar maal kon wen.
“Dit was ’n voorreg om voor Rod Laver te kon speel, een van die grotes van alle tye en voor 15 000 toeskouers wat tot 1:30 in die oggend gebly het.
“Dit is ongelooflik, regtig.”