Federer pak Soderling in kwarteind
2010-09-07 22:12
New York. – Switserland se Roger Federer is nog op koers na sy sewende agtereenvolgende eindstryd op Flushing Meadows.
Die vyfmalige wenner en tweede gekeurde in die Amerikaanse Ope-tennistoernooi het Jurgen Melzer van Oostenryk met 6-3, 7-6 (7/4), 6-3 geklop om vir hom ’n plek in die kwarteindronde teen die Sweed Robin Soderling te bespreek.
Soderling, vyfde gekeur, het sy plek tussen die laaste agt vir die tweede agtereenvolgende jaar bespreek deur die Spanjaard Albert Montanes (21ste) met 4-6, 6-3, 6-2, 6-3 te klop.
Soderling het Federer op klei in die kwarteindronde van vanjaar se Franse Ope geklop.
“Dit is altyd lekker om teen die bestes in die wêreld te speel. Dis vir sulke wedstryde waarvoor jy oefen en waarvan jy droom sedert jy begin speel het,” sê Soderling.
“Ek dink enigeen kan Roger klop, minstens enigeen in die top-10.”
Sy sege oor Federer in Parys was sy eerste in 13 wedstryde tussen die spelers.
“Dit gaan taai wees, veral ná die voorsmaak wat hy gehad het van hoe om my te klop.
Hy is ’n goeie speler wat ’n paar goeie jare beleef en nog altyd ’n bedreiging was,” sê Federer.
Federer, met 16 Grand Slam-enkelspeltitels op sy kerfstok, speel in sy 26ste Grand Slam-kwarteindronde op ’n streep.
Dit is net een minder as die rekord van Jimmy Connors.
Die wenner van die wedstryd tussen Federer en Soderling kom te staan teen die wenner van die wedstryd tussen die derde gekeurde, Novak Djokovic van Serwië, wat in sy kwarteindronde teen Gael Monfils van Frankryk speel.
Mikhail Youzhny van Rusland het ook gisteraand die kwarteindronde gehaal ná ’n oorwinning in vier stelle oor Tommy Robredo van Spanje.
Onder die vroue het die voorste gekeurde, Caroline Wozniacki van Denemarke, die 14de gekeurde, Maria Sharapova, met 6-3, 6-4 geklop in ’n wedstryd waarin die Rus 36 ongedwonge foute gemaak het.
Wozniacki speel nou teen die Slowaak Dominika Cibulkova vir ’n plek in die halfeindronde.