Gesoute SA vou in 13 minute
2010-09-07 22:12
JOHANNESBURG
Die kern van Suid-Afrika se vroue-hokkiespan speel al langer as ’n halwe dekade lank saam.
In die groep van 20 vroue wat tans in Argentinië is vir die Wêreldbeker-toernooi, is 6 wat meer as 100 toetse op hul kerfstok het en nog 6 met meer as 50.
En tog het die nasionale kaptein, Marsha Marescia, dit Maandagaand goedgedink om ’n monumentale ineenstorting in die laaste 13 minute van Suid-Afrika se Wêreldbeker-wedstryd teen Korea aan ’n gebrek aan ervaring toe te skryf.
Al het hulle Maandag in Rosario ’n nederlaag uit die kake van ’n triomf gegryp, sal dié Suid-Afrikaners aanstaande week terugkeer na hul geboorteland en vertel dat hulle goed gedoen het, omdat hulle verseker is van hul beste Wêreldbeker-posisie in 12 jaar.
Asof hul ondersteuners nie mag omgee nie dat hulle vir 52 minute gewys het dat hulle die talent en gesamentlike vermoë het om saam te praat met die groot honde van wêreldhokkie, net om dit binne 15 minute met swak konsentrasie en ongedissplineerdheid ongedaan te maak.
Korea het Suid-Afrika Maandagaand met 5-3 tot sy vierde nederlaag in vyf wedstryde verdoem danksy ’n blitzkrieg van vier doele in die laaste 15 minute van die wedstryd.
Die Suid-Afrikaners het hul voet van die pedaal gehaal nadat Cindy Botha haar tweede doel van die wedstryd – en Suid-Afrika se derde – in die 52ste minuut aangeteken het, en het nooit gelyk of hulle die lus of die vermoë het om sake te beredder nie.
Dit ondanks die feit dat hulle vir 52 minute gate deur die Koreaanse verdediging gehardloop het en op die verdediging antwoorde op al die vrae gehad het.
Sommige rolspelers sal skuil agter die feit dat twee van Korea se doele nooit toegeken moes gewees het nie.
Dis waar, maar so ’n verskoning gaan min help wanneer besluit moet word wat die beste pad vorentoe vir hierdie span is.
Ná jare van min sukses met dieselfde groep spelers, raak dit nou tyd om die kern van die probleem te takel.
Die SA afrigter, Giles Bonnet, het net drie maande gelede oorgeneem en tot sy krediet is hy vasbeslote om ’n verskil te maak.
Dié proses is reeds in werking en het sekerlik ’n groot rol gespeel in die vuur waarmee die Proteas aanvanklik gespeel het.
Maar Bonnet moes erken dat drie goeie kwarte nie genoeg is as jou span nie vir ’n volle wedstryd op alle silinders kan vuur nie.
Die Proteas kom nou Vrydagaand teen Nieu-Seeland te staan in die uitspeelwedstryd om die negende plek, danksy hul enkele oorwinning verlede week oor Spanje.
Hulle is dus reeds verseker van ’n verbetering op hul 12de plek in die vorige Wêreldbeker-toernooi.
Maar hulle moes meer gehad het om oor te juig.