Irvette sê hoekom sy voet in hoek wil sit
2012-01-30 21:27
PRETORIA. – Daar is ’n baie goeie rede waarom Irvette van Blerk (Nedbank) op 22 April in Londen die marathon vinniger as 2 uur 37 minute wil afdraf.
Kry sy dit reg, sal sy Suid-Afrika saam met haar verloofde, LJ van Zyl (400-hekkies), op die Olimpiese Spele verteenwoordig.
Die kwalifiserende A-vereiste vir die Spele in Londen is vinniger as 2 uur 37 minute.
“Die Londen-marathon gaan waarskynlik die belangrikste wedloop van my loopbaan wees.
“Dit sal regtig erg vir my wees as ek nie vir die Spele (in Julie en Augustus) kan kwalifiseer nie. My Plan B sal wees om in die 10 000 m te probeer kwalifiseer, maar dit sal ’n grootse poging verg.
“My beste tyd van 34:20.17 steek sleg af teen die kwalifiserende A-vereiste van 31:45.00.
“As ek regtig nie kan kwalifiseer nie, sal ek maar as toeskouer vir LJ by die Spele gaan aanmoedig, maar dit belowe ek, ek mis die Spele vir niks nie.”
Verlede jaar was nie maklik vir Van Blerk nie.
Sy is ’n slag deur ’n motoris raak gery terwyl sy aan die oefen was, en in die Soweto-marathon is sy by die wegspring omgestamp en moes sy behoorlik kophou om nie vertrap te word nie.
Gelukkig is die meeste van haar beserings darem nou iets van die verlede.
“Ek oefen goed, maar ek wil nie myself ‘jinx’ nie, daarom hou ek nie daarvan om oor beserings te praat nie.”
Londen is maar die tweede keer dat Van Blerk ’n marathon gaan aandurf.
“Die belangrikste vir my gaan wees om my nie deur die toeskouers te laat meevoer nie en te vinnig te vroeg te hardloop nie.
“En ek sal moet onthou om gereeld water te drink. René Kalmer, my oefenmaat, het vir my gesê dat sy in ’n internasionale marathon te laat begin water drink het. Dit het haar gekos.
“My grootste uitdaging gaan wees om nie ná 25 km kop te verloor nie. Ek sukkel dan om gefokus te bly en my afrigter, Gerrie Coetzee, sê dit is wanneer ’n marathon eers werklik begin.
Volgens Van Blerk is haar en LJ se lewens op die oomblik erg dol. Sy gaan einde Februarie aan ’n paar korter internasionale wedlope deelneem en vertrek weer in April na die buiteland.
Van Zyl se internasionale aanslag begin in Mei.
“My ma het ons gedruk om feitlik al ons troureëlings klaar te tref voordat ons ernstig begin deelneem.
“Ek het klaar ’n trourok en ons gaan op 29 September in Bloemfontein trou.”