Karin ‘speel groot rol in Turkye’
2012-01-30 21:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
PRETORIA. – Suid-Afrika se Karin Mey-Strohmenger speel ’n groot rol in die oplewing van Turkse atletiek.
Verlede jaar het 6 van die 22 Turkse atlete wat aan die Wêreldbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea, deelgeneem het tot eindrondes deurgedring.
Charlie Strohmenger, haar afrigter, twyfel nie dat die bronsmedalje wat sy vrou in 2009 op die Wêreldbyeenkoms in Berlyn in die verspring gewen het daartoe bygedra het nie.
“In 2009 het daar net sewe Turkse atlete aan die Wêreldbyeenkoms deelgeneem en slegs twee was in die eindrondes in aksie.
Karin het die Turkse atlete laat besef dat met die regte toewyding en oefening hulle ook op groot byeenkomste kan presteer.”
Die medalje wat sy gewen het, was Turkye se enigste.
Strohmenger voorspel dat Turkye minstens twee medaljes op die Olimpiese Spele in Londen (in Julie en Augustus) kan wen.
Hy koester hoë verwagtinge van sy vrou.
“Danksy die hulp van die SA fisioterapeut Jacqueline Swart is die rugbesering wat Karin die afgelope twee jaar erg opgekeil het iets van die verlede.
Daarom twyfel ek nie dat Karin dié seisoen die eerste keer verder as 7 m sal spring nie.”
Sy het in 2007 en 2008 daarin geslaag om 6.93 te spring.
Haar sprong in 2007 is ’n Suid-Afrikaanse rekord.
Sy het die afgelope naweek op die Turkse binnenshuise byeenkoms die verspring met ’n sprong van 6.32 gewen.
Volgens Strohmenger is die byeenkoms weens erge koue vroeg beëindig.
“Die atlete moes in 4º Celsius deelneem.”
Strohmenger erken dat daar baie druk op Karin is om op die Binnenshuise Wêreldbyeenkoms (9-12 Maart) in Istanboel ’n medalje te wen.
“Dit is beslis ’n haalbare doelwit as niks onvoorsiens gebeur nie. Haar beste afstand in binnenshuise atletiek is 6.80.”
Volgens Strohmenger sal Karin ook in Birmingham en Stockholm deelneem voordat hulle Suid-Afrika toe kom vir die finale voorbereiding.
Strohmenger het gesê hulle wonder soms hoe dit sou wees om vir Suid-Afrika deel te neem.
“Maar as ek hoor van al die probleme in Suid-Afrikaanse atletiek en die frustrasies van atlete en afrigters twyfel ek nie dat dit die regte besluit was om na Turkye te gaan nie.”