Lees dié en wen jou sokkerweddenskappe
2010-09-07 22:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Man spog met ’n paar yslike klippe as hy laat verlede jaar ’n boek oor sokker die lig laat sien het genaamd Why England Lose & Other Curious Football Phenomena Explained, maar die Hollander Simon Kuper is ’n bielie van ’n sportskrywer.
Sy Football Against The Enemy is een van die beste sportboeke tot nog toe: hoe ’n land se kultuur en politiek deur sy sokker beïnvloed word en watter impak landspolitiek weer op die sport het.
So is die bloedige Joego-Slawiese burgeroorloë van die negentigerjare byvoorbeeld afgeskop deur Dynamo Zagreb se sokkerskollies, wat met ’n bakleiery teen hul eweknieë van Red Star Belgrade die eerste sprake van Kroasiese onafhanklikheid by hul landgenote laat posvat het.
Miljoene is dood en een land het in vele verbrokkel weens ’n klomp stommerike wat hulself die Bad Boys Blue genoem het na hul grootste helde, die destydse sokkerboewe van Chelsea.
Die keer het Kuper ’n ekonoom, Stefan Szymanski, byderhand en fynkam hulle die sport behoorlik met allerhande statistiese gereedskap.
So illustreer hulle hoedat sokker-sukses voorspel kan word volgens internasionale ervaring, bevolking en omvang van jou ekonomie en hoedat tuisspanne gemiddeld met 0.6 doele bevoordeel word, wat beteken hulle sal twee uit elke drie tuiswedstryde statisties ’n eendoel-voorsprong geniet.
In die lig waarvan Bafana Bafana se beskeie wentelling van 2-0 teen Niger natuurlik des te meer terneerdrukkend was!
Engeland, werk hulle uit, onderpresteer glad nie en vaar inderdaad effentjies beter as wat sy ekonomie, getal inwoners en internasionale sokkerervaring voorspel.
Dat die twee hul somme vertrou, kan jy aflei uit die boek se titel, ’n skrale maand of ses voordat Engeland hier kom skande maak het.
Een van die interessantste hoofstukke handel oor die besigheid wat top-klubs doen.
Salarisse voorspel watter klubs gaan presteer, terwyl die oordragmark ’n chaotiese gedoente is.
Tereg verduidelik Kuper en Szymanski dat hierdie chaos natuurlik geleenthede verteenwoordig vir die slimkoppe, manne soos die legendariese Brian Clough by Nottingham Forest en Arsenal se monsieur Arsene Wenger.
Daar is bewyse van sulke stommiteite soos dat sekere lande se spelers groter geld kos – wat in die praktyk daarop neerkom dat ’n vrotsige Brasiliaan jou meer uit die sak gaan jaag as ’n uitstekende Mexikaan.
Een van Clough-hulle se groot planne was om spelers met persoonlike probleme teen winskoop-pryse op te raap en hulle dan te help genees van die drank-duiwel, die dobbel-duiwel of welke ander duiwel wat met –d- begin ook al.
Ek verslind hierdie boek behoorlik en hy is eindelik in slapband op onse rakke beskikbaar.
Lees hom ’n bietjie en sien hoe wen u die meeste sokkerweddenskappe!