Novak uit sy nate ná sege
2012-01-29 21:34
MELBOURNE. – In die langste Grand Slam-eindstryd tot nog toe wat tot in die Australiese oggendure geduur het, het Novak Djokovic sewe minute kort van ses uur triomfantlik uit die stryd teen Rafael Nadal getree om sy titel in die Australiese Ope te behou.
Die seëvierende Serwiër het gister hier in die oomblik van glorie sy hemp van sy lyf af geskeur nadat hy eindelik in ’n marathon-tennisstryd van vyf stelle met 5-7, 6-4, 6-2, 6-7?(5/7) en 7-5 gewen het.
Die spelers was langer op die baan as Mats Wilander en Ivan Lendl wat in 1988 vir 4 uur en 54 minute sake in die eindstryd van die Amerikaanse Ope uitgespook het.
Djokovic het met die 401ste beroepswedstryd wat hy gewen het met bykans R19 miljoen weggestap.
Dit was sy derde titel in Melbourne. Dit was ook sy derde agtereenvolgende Grand Slam-titel met Nadal wat nog elke keer sy teenstander was.
Hy het trouens die laaste sewe titel-wedstryde tussen hulle gewen.
Die naelbyt-affêre het voor 20:00 Sondag begin en dis kort voor 02:00 Maandag in Australië afgehandel.
Nadal het dan ook gepas “goeiemôre almal” in sy toespraak gesê.
“Ek sal die wedstryd nooit vergeet nie. Selfs al het ek verloor, was dit rêrig spesiaal vir my.”
Die kanniedood Spanjaard het belowe om vegtend terug te keer net soos hy gedoen het nadat Djokovic die tweede en derde stelle gewen het.
“Ons het vanaand geskiedenis gemaak. Dis net jammer daar kan nie twee wenners wees nie,” het Djokovic gesê.
Dit was die 24-jarige Serwiër se vyfde Grand Slam-titel in sewe eindstryde.
Net Rod Laver, Pete Sampras, Roger Federer en Nadal het al drie keer agtereenvolgens ’n Grand Slam-titel gewen.
Djokovic het boonop vroeër gesukkel met ’n allergie wat hom asemhalingsprobleme gegee het.
Hy het eers in die tweede stel sy ritme gevind.
Hy het sake begin dikteer en weggehardloop met die derde stel. Maar die boorling van Majorka wou nie bes gee nie.
Nadat reën spel vir ’n wyle onderbreek het, is die vierde stel deur ’n valbylstryd beslis wat Nadal gewen het nadat hy met 3-5 agter was.
In die finale stel het Djokovic ’n keer ná 31 oor en weer-houe op die naat van sy rug bly lê.