Oscar ‘op koers vir Spele-droom’
2012-01-31 21:53
PRETORIA. – Oscar Pistorius is goed op koers om die eerste atleet te word wat Suid-Afrika in dieselfde jaar op die Olimpiese en Paralimpiese Spele verteenwoordig.
Sebastian Coe, ’n voormalige Olimpiese kampioen en voorsitter van die Olimpiese komitee wat die Spele in Londen reël, het aan die Laureus-sportstigting gesê Pistorius is een van die ware ambassadeurs van internasionale atletiek en vir die Spele.
“Ek het dít besef toe ek Oscar by ’n sportgeleentheid op Trafalgarplein in aksie gesien het.
“Oscar het as deel van ’n bewusmakingsveldtog vir die Paralimpiese Spele aan ’n wedloop oor 60 m deelgeneem.
“Ek was absoluut verstom toe ek sien hoe kinders van alle ouderdomme agterna op hom toesak om sy handtekening te kry en met hom ’n geselsie aan te knoop.”
Ampie Louw, Pistorius se afrigter, maak dit duidelik dat dit geen uitgemaakte saak is dat Pistorius op die Olimpiese en Paralimpiese Spele in aksie sal wees nie.
“Ek is tog versigtig optimisties. Ons voorbereiding verloop goed. Oscar is beslis vinniger en sterker.
“Verlede jaar was ons doelwit dat Oscar tye in die lae 45 sekondes in die 400 m moes hardloop.
“Nou wil ek hê hy moet ’n tyd vinniger as 45 sekondes hardloop. Dit is haalbaar.
“Oscar se droom is om op die Spele tot die eindronde deur te dring.”
Die Olimpiese kwalifiserende A-vereiste is 45.30.”
Pistorius het vir verlede jaar se Wêreldbyeenkoms in Daegu, Suid-Korea, met ’n tyd van 45.07 gekwalifiseer en op die Wêreldbyeenkoms tot die halfeindronde deurgedring.
Louw het gesê as Pistorius vir die Spele kwalifiseer, sal hy nie saam met die Suid-Afrikaanse span Londen toe vlieg nie.
“Oscar sal hom net voordat hy moet deelneem by die Olimpiese dorp aanmeld. Dit is sodat hy gefokus kan bly. Hy gaan deur die media oorval word die oomblik as hy in Londen aankom.
“Al die onderhoude kan nogal uitputtend raak.”
Volgens Louw sal Pistorius onmiddellik nadat hy aan die 4x400-aflos deelgeneem het, teruggaan Italië toe waar hy vir die Paralimpiese Spele sal slyp.
In 2008 in Beijing, China, het hy goue medaljes in die 100, 200 en 400 gewen.
Dit is geen waarborg dat hy weer drie goue medaljes sal wen nie.
Jerome Singleton van die VSA het Pistorius verlede jaar op die Wêreldbyeenkoms vir gestremde atlete in Nieu-Seeland met millimeters in die eindronde van die 100 m (T44) geklop.
Louw het gesê sy plan is dat Pistorius in die 10 dae voor die Paralimpiese Spele net op die 100 fokus.
“Ek wil werk aan sy spoed oor die eerste 30, sy wegspring en natuurlik moet hy ook baie rus.
“As niks verkeerd gaan nie, kan Oscar die 100 in minder as 11?sekondes hardloop.”
Die Olimpiese Spele word van 27 Julie tot 12 Augustus gehou en die Paralimpiese Spele van 29 Augustus tot 9 September.