SA soek nog net 2 seges
2010-09-07 22:12
MAMELODI
Die Suid-Afrikaanse netbalspan het sy status as die beste op die vasteland gister vasgemessel toe hy die trots van Tanzanië in ’n Wêreldbeker-kwalifiseringswedstryd hier met 69-25 verneder het.
Suid-Afrika is een van agt Afrika-lande in dié toernooi. Die twee voorste spanne kwalifiseer vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Singapoer.
Danksy oortuigende seges in al drie hul eerste wedstryde is die Proteas nou net twee oorwinnings weg van kwalifisering.
Die Proteas het Tanzanië lamgelê deur die wedstryd van die eerste oomblik af teen ’n blitsige tempo te speel.
Hulle het die besoekers sowel geestelik as fisiek afgetakel en was reeds aan die einde van die eerste kwart met 17-9 stewig in beheer van alle aspekte van die wedstryd.
Met die selfvertroue van ’n goeie eerste kwart het die Suid-Afrikaners die Tanzaniërs se gô daarna heeltemal uitgespeel.
Dit was veral in die tweede helfte duidelik wie die kitaar slaan toe die tuisspan 40 doele teenoor 10 aangeteken het.
Die Proteas se afrigter, Carin Strauss, was ’n tevrede vrou.
Sy het gesê haar spelers het haar beïndruk met die stewige tempo wat hulle gehandhaaf het en met die wyse waarop elkeen haar rol in die spelpatroon tot op die letter uitgevoer het.
“Ek dink die telling is ’n akkurate weerspieëling van die wedstryd.
“Dit was ’n fantastiese spanpoging, waarin ons die tempo en spelpatroon goed bepaal het.
“Die feit dat ons so ’n vinnige wedstryd kon speel, is goed. Hoe anders hou jy by spanne soos Australië en Nieu-Seeland by?
In daardie opsig was dié vertoning baie bemoedigend.”
Strauss het gesê die spelers se ervaring het gister gewys. “Dit gaan baie moeilik vir ’n jong speler wees om haar plek in die span in te speel, want al die huidige spelers vuur op alle silinders.”
Leigh-Ann Zackey het in haar vyftigste internasionale wedstryd gespeel, en het Strauss met ’n kwiksilwer-vertoning tevrede gestel.
Sy en haar mede-verdediger, Amanda Mynhardt, het die Tanzaniese doelskieters heeltyd probleme gegee en hulle net 36 doelkanse gegun.
Aan die ander kant van die baan was Sindiwe Gumede en Chrisna Bootha (wat die eerste keer in haar internasionale loopbaan hulpdoel gespeel het) se lengte deurslaggewend, en in die middel van die baan het Erin Burger en Nthabiseng Moabi indrukwekkend vertoon.
Ander uitslae: Lesotho k Zimbabwe 58-24, Botswana k Zimbabwe 48-34, Namibië k Tanzanië 38-28.