United veg terug
2012-02-05 21:36
LONDEN. – Chelsea het gister ’n voorsprong van 3-0 oor Manchester United verbeur en laasgenoemde toegelaat om met ’n terugvegpoging ’n opwindende wedstryd op 3-3 te laat eindig.
Dié uitslag was ’n groot guns vir Manchester City wat weer sy ligavoorsprong gerek het.
Albei die Manchester-klubs was voor die naweek gelyk aan ligapunte, maar United se gelykop-uitslag en City se sege Saterdag oor Fulham het die prentjie weer verander.
City se groot aanslag op die ligatitel duur dus voort en dié klub het nou weer ’n voorsprong van twee punte bo United bo-aan die liga se puntelys.
United het gister tot sy eie moeilikheid bygedra toe sy verdediger, Jonny Evans, die bal in die eerste helfte in sy eie doelhok ingestuur het.
Dit was die begin van slegte dinge vir sy span, want kort ná rustyd het sowel Juan Mata as David Luiz doele vir Chelsea behaal en die voorsprong tot 3-0 gerek.
Maar strafdoele ná 58 minute en 69 minute deur Wayne Rooney was United se antwoord en hul ongelooflike veggees het uiteindelik kort voor die einde tot ’n gelykmaker deur Javier Hernandez gelei.
Chelsea se aanslag kwyn egter en dié Londense klub is nou 14 ligapunte agter City as die voorloper.
City het Fulham met 2-0 in ’n hewige sneeustorm geklop en het die doelskieters Sergio Aguero en Edin Dzeko gehad om daarvoor te bedank.
Arsenal het Saterdag ook weer op die wenpad geklim, maar op ’n manjifieke manier.
Die Gunners het Blackburn Rovers met 7-1 verniel en daarmee die huidige onrus by Arsenal-ondersteuners oor die klub se gesukkel ietwat laat bedaar.
Robin van Persie het drie van Arsenal se sewe doele aangeteken en die veteraan Thierry Henry het ook ’n doel van sy eie aangeteken.
Blackburn moes wel vir die ganse tweede helfte met slegs tien spelers speel nadat Gael Givet in die eerste helfte ’n rooikaart gesien het.
Benewens Chelsea was Newcastle United gister se ander wenspan toe hy Aston Villa met 2-1 geklop het.
Die span het sy vyfde plek op die puntelys behou.
Arsenal is sesde en Liverpool sewende.
Liverpool was nie die naweek in aksie nie, maar kom vanaand op sy tuisveld teen Tottenham Hotspur te staan.
Spurs, wat derde op die puntelys lê, kan met ’n sege seker maak dat hy op die Manchester-klubs se hakskene bly.