Weerlig het laaste sê teen België
2012-01-29 21:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
JOHANNESBURG. – Weerlig het die laaste sê gehad in die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan se tweede wedstryd in die driehoekige reeks gister in Randburg toe hy met 1-0 teen België voorgeloop het.
Die wedstryd is kort ná die hervatting van die tweede helfte gestaak en later afgelas vanweë die aanhoudende weerlig rondom die stadion.
Die tuisspan het ná ’n kwartier die voortou geneem ná ’n strafhoek wat deur Lauren Penny afgerond is.
Dit was Penny, wat ná ’n brugjaar steeds in Engeland woon, se tweede doel in haar vyfde toets vir haar geboorteland.
Die Suid-Afrikaanse doelwagter, Mariette Rix, het België se strafhoek uitgehou.
Pietie Coetzee het ’n geleentheid of wat vroeg in die helfte gehad, waarna spel met nog 26 minute oor gestaak is.
Suid-Afrika se Speler van die Jaar, Tarryn Bright, wat Saterdag teen Ierland bebloed van die astro-baan gestap het, was nie gister in aksie nie.
Sy is getref deur ’n bal nadat Pietie Coetzee se trefhou gedeflekteer is.
Sy het intussen ’n skandering ondergaan.
Die wonde moes ook inwendig met steke geheg word.
Die spanbestuur is oortuig sy sal voor die einde van die reeks weer speel.
Suid-Afrika speel môre weer teen die Iere en Woensdag in sy laaste wedstryd teen België.
Ierland speel in vandag se wedstryd om 19:00 teen België.