Aussies pos Marsh
2012-01-30 21:27
SYDNEY. – Die sukkelende kolwer Shaun Marsh is uit Australië se eendag-krieketgroep gelaat en die paaltjiewagter Brad Haddin kry ’n ruskans.
Die Aussies gaan van die naweek in ’n driehoekige eendagreeks tuis met Indië en Sri Lanka meeding.
Australië behoort vol selfvertroue te wees nadat hy in die toetsreeks teen Indië met 4-0 skoonskip gemaak het.
Die 28-jarige Marsh was egter in die toetsreeks van die min Australiërs wat gesukkel het.
Hy het net 17 lopies aangeteken toe hy ná ’n rugbesering weer in die span opgeneem is.
Daar was vroeër reeds sterk sprake dat hy uit die toetsspan gelaat sou word.
“Marsh is natuurlik teleurgesteld met sy peil van die laaste paar weke. Hy is uit die span, maar ons hou hom nog in gedagte vir die toekoms terwyl hy vir sy provinsiale span in aksie sal wees,” het die nasionale keurder John Inverarity gesê.
“Soos hulle sê, gehalte is permanent, maar jou peil is tydelik.”
Volgens Inverarity word Haddin ’n ruskans gegun omdat hy ’n swaar werklas in die toetse gehad het.
“Die werklas vir ’n paaltjiewagter-kolwer in toetse is uiters straf. ’n Ruskans sal hom verfris vir die komende internasionale verpligtinge.
Deur Haddin te laat rus, gee dit ons boonop ook ’n kans om op dié vlak te kyk na Matt Wade, wat vir hom sal instaan,” het Inverarity gesê.
Die nuweling Peter Forrest is in die groep nadat hy in die plaaslike t20-liga en in die reeks om die Sheffield-skild stewige vertonings gelewer het.
Die snelbouler Brett Lee sal deel van die boulaanval uitmaak. Ryan Harris en Xavier Doherty tel ook onder die boulers.
Omdat Haddin rus en Shane Watson nog beseer is, het Australië nie ’n onderkaptein vir die eerste drie wedstryde aangewys nie.
Die eerste wedstryd van die reeks is Sondag in Melbourne, tussen Australië en Indië.
Australië se groep is: Michael Clarke (k), Dan Christian, Xavier Doherty, Peter Forrest, Ryan Harris, David Hussey, Mike Hussey, Brett Lee, Mitchell Marsh, Clint McKay, Ricky Ponting, Mitchell Starc, Matthew Wade, David Warner.