Cobras minder as punt voor Titans
2012-02-05 21:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
KAAPSTAD. – Die Titans se moed sou in hul skoene gesak het nadat hul wedstryd die naweek teen die Warriors afgelas is sonder dat ’n bal geboul is.
Dit het gelyk of die swaar reën in Oos-Londen hul droom om dié seisoen die SuperSport-trofee te wen, ’n kwaai slag toegedien het.
Die manne van die noorde sou egter gister baie beter voel met die nuus dat die ander twee wedstryde onbeslis geëindig het.
Die Cape Cobras kon nie die uitklophou teen die Knights op Nuweland plant nie, terwyl die Dolphins én die Lions se kolwers in Durban baljaar het.
Die Cobras het nou die voortou geneem in die reeks met 108.50 punte, ’n skamele 0.68 van ’n punt voor die Titans.
Die Knights (95.72) en die Lions (92.68) het nog ’n wiskundige kans om die titel in te palm, maar die Cobras en Titans is in die binnebaan.
Die Cobras pak die Lions van Donderdag op die Wanderers, terwyl die Titans die Dolphins takel in Centurion.
Die Cobras het hulself gister met 90 boulbeurte gelaat om die Knights uit te boul en beheer van die reeks te neem, maar Reeza Hendricks (82; 302 minute, 226 balle, 12x4, 1x6) het vir die tweede keer in die wedstryd hul planne gefnuik.
Dié aanvangskolwer het Donderdag ’n fantastiese honderdtal geslaan.
Die Cobras het ná die teepouse ’n hele paar paaltjies platgetrek, maar ’n hardekwas 27 nie uit nie deur Ryan McLaren het seker gemaak dat die besoekers (176/7) ’n onbesliste uitslag kon afdwing.
Die Cobras het hul beurt vroeër op 529/9 gesluit verklaar danksy honderdtalle deur die Proteas JP Duminy, Mark Boucher en die bouler Johann Louw.
Neil McKenzie (101*; 294 m, 182 b, 10x4) het sy tweede honderdtal van die wedstryd teen die Dolphins op Kingsmead geslaan om die onbesliste uitslag dáár te verseker.
Die Lions was gister effe in die moeilikheid op 116/4 in hul tweede beurt, maar McKenzie het ’n dreigende nederlaag afgeweer.
Die nasionale keurders sal egter bly wees dat die bybreekbouler Imran Tahir (4/88) darem weer op dreef gelyk het.
Met Vernon Philander (9/89 teen die Knights), Duminy (104) en Boucher (131) wat uitgeblink het, was dit ’n goeie naweek vir die Proteas in plaaslike krieket.
Die Dolphins het 50/1 in hul tweede beurt bereik voor spel gestaak is.