Dit reën paaltjies
2012-02-03 22:16
DOEBAI. – Sestien paaltjies het gister hier op
die eerste dag van die derde en laaste kriekettoets tussen Engeland en Pakistan
geval.
Engeland het die dag afgesluit op 104/6, ’n voorsprong van 5 lopies
nadat Pakistan vir net 99 in sy eerste beurt uitgehaal is.
Andrew Strauss (41*) sit die stryd vanoggend voort vir die Engelse
op ’n blad waar kolfwerk baie moeilik is.
In die Pakistani’s se beurt was dit net die middelkolwer Asad
Shafiq (45) wat teenstand gebied het.
Die Engelse aanvangsboulers, James Anderson (3/35) en Stuart Broad
(4/36), het die groot skade aangerig.
Dit was veral Broad wat uitstekend geboul het en in ’n
vernietigende skof al sy paaltjies vir 21 lopies geneem het.
Met die etenstyd was Pakistan op 53/7 reeds diep in die
moeilikheid.
Anderson het al met die laaste bal van sy eerste boulbeurt
toegeslaan deur Taufeeq Umar been voor paaltjie te betrap.
Die Engelse beurt het self glad nie goed begin nie, met Alistair
Cook (1) wat ver van sy lyf gespeel het na ’n aflewering van Umar Gul (2/28) en
deur die paaltjiewagter, Adnan Akmal, gevang is toe hy voor die eerste glip
ingeduik het.
Jonathan Trott (2) het ook nie lank gehou nie. Gul het hom been
voor paaltjie betrap.
Kevin Pietersen (32) het daarna vasgebyt saam met sy kaptein,
Strauss, maar nadat hy uit is, het die draaier Abdur Rehman (3/23) heelwat skade
aangerig.
- In Melbourne het Indië sy eerste oorwinning op sy ellendige
toer in Australië behaal deur die tweede t20-wedstryd met 8 paaltjies te
wen.
Indië het die Aussies danksy puik veldwerk vir 131 in 19.4
boulbeurte uitgehaal en daarna 135/2 gekry met nog twee balle oor.
Die Speler van die Wedstryd, Ravindra Jajeda, het twee uithardlope
bewerkstellig met die jong Indiese span wat eindelik die honger gewys het wat so
lank afwesig was.
Gautam Gambhir het 56 onoorwonne lopies van 60 balle geslaan, met
sy kaptein, MS Dhoni, wat ook ’n onoorwonne 21 van 18 balle gekry het om die
oorwinning te verseker.
Vir die tuisspan het die aanvangskolwer Aaron Finch (36) en Matthew
Wade (32) die beste met die kolf vertoon, maar die Aussies was deurentyd onder
druk.
Hulle het ook hul laaste 3 paaltjies van net 7 balle verloor.
Praveen Kumar het 2/21 geneem en Ishant Sharma (2/29).
- ?In Dunedin het Nieu-Seeland Zimbabwe in die eerste
eendagwedstryd gerieflik met 90 lopies geklop.
Die Kiwi’s het aan Zimbabwe ’n teiken van 249 lopies gestel met
Martin Guptill (70) wat die ruggraat van die beurt gevorm het.
Die toerspan was egter nooit in die prentjie nie en is vir slegs
158 uitgehaal