Engelse kroon wankel
2012-02-06 22:05
DOEBAI. – Engeland sal blitsvinning moet skaaf aan sy kolfwerk teen draaiboulers as hy teen die einde van die jaar steeds die voorste toetskrieketspan ter wêreld wil wees.
Andrew Strauss se span het gister die derde toets hier teen Pakistan met 71 lopies verloor. Pakistan het sodoende die reeks met 3-0 beklink.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van toetse tussen dié lande (22 reekse) dat Pakistan in ’n reeks kon skoonskip maak.
Dit is nie die laaste keer dié jaar dat Engeland op die subkontinent gaan speel nie. Hy pak Sri Lanka volgende maand in twee toetse voordat hy aan die einde van die jaar vier toetse in Indië speel.
Suid-Afrika kan die eerste plek op die toetsranglys oorneem, mits hy Nieu-Seeland in Maart met 3-0 in Nieu-Seeland pak gee.
Dit is veral die Engelse middelorde-kolwers – Kevin Pietersen, Ian Bell en Eoin Morgan – wat die meeste gesukkel het.
Dié kolwers het tussen hulle ’n skamele 200 lopies in die 3 toetse aangeteken. Hul gesamentlike gemiddelde was 11.11.
Bell was verlede jaar, toe Engeland amper al sy toetse tuis gespeel het, die grootste lopievraat in toetse.
Maar in dié reeks teen Pakistan het hy gelyk soos ’n laerskoolseun, wat die eerste keer teen draaibouler speel.
Pietersen het nie veel beter gevaar nie en Morgan is waarskynlik vir eers sy plek in die toetsspan kwyt.
Engeland, wat gevra is om 324 lopies aan te teken vir ’n sege, is vir 252 uitgeboul danksy uitstekende vertonings deur die wegbreek-towenaar Saeed Ajmal (4/67) en die naatbouler Umar Gul (4/61).
Ofskoon Gul goed geboul het, het hy waarskynlik baie baat gevind by die druk wat Ajmal en Abdur Rehman op die Engelse kolwers gelaai het.
Die twee draaiers het in die reeks altesame 43 paaltjies teen ’n gemiddelde van 15.60 laat kantel. Dit het soms gelyk of die Engelse kolwers só verlig was om teen Gul pleks van een van die draaiers te kolf, dat hulle konsentrasie verloor en hul paaltjies met swak houe weggegooi het.
Alistair Cook (49) en Matt Prior (49*) was die enigste kolwers wat Pakistan laat werk het vir sy sege.
Benewens Engeland se lopieskaarste sal dié reeks ook onthou word as een waarin die skeidsregters en die verwysingstelsel sleutelrolle gespeel het.
Die witjasse, met die hulp van die TV-skeidsregter, het ’n allemintige 43 kolwers in dié reeks been voor paaltjie uitgegee.
Dit oortref die rekord vir ’n reeks van drie toetse (33) en ewenaar die wêreldrekord vir die meeste bvp-beslissings in enige reeks.
- Nieu-Seeland het sy eendagreeks teen Zimbabwe beklink toe hy die tweede wedstryd gister in Whangarei met 141 lopies gewen het.
Die aanvangskolwer Rob Nichol se 146 (134 balle, 10x4, 6x6) het die grondslag vir die Kiwi’s se enorme 372/6 gelê. Zimbabwe is toe beperk tot 231/8 met Elton Chigumbura (63) en Tatenda Taibu (50) wat vyftigtalle behaal het.
Die laaste kitsstryd word Donderdag in Napier beslis.