Kiwi’s lek lippe af vir SA ná hul Zimbabwe vermorsel
2012-01-30 21:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Fairfax NZ News, Sportredaksie
NAPIER. – Die Nieu-Seelandse boulers lek hul lippe af vir die stryd teen Suid-Afrika nadat hulle Zimbabwe aan flarde geboul het hier in die toets op McLean Park.
Die Black Caps het 495/7 aangeteken waarna die toerspan vir net 51 en 143 uitgehaal is.
Veral Chris Martin het rede om breëbors te wees ná die Black Caps se rekordsege van ’n beurt en 301 lopies.
Dié toetsspesialis is vir sy wedstrydontleding van 8/31 (2/5 en 6/26) as die Speler van die Wedstryd aangewys.
Sy ontleding van 6/26 in Zimbabwe se opvolgbeurt was dié veteraan se beste tot nog toe.
Die einste Martin het met die Proteas se vorige toer Gary Kirsten se 100ste toets met sy goeie swaaiboulwerk bederf.
Hy het 11 paaltjies in die tweede toets teen Suid-Afrika ingeoes. Die Kiwi’s het met nege paaltjies op Eden Park in Auckland geseëvier en dié naatbouler se 18 paaltjies was die meeste in 2004 se toetsreeks.
Die Proteas se toer begin vanjaar met drie blits- en drie kitswedstryde waarna die eerste toets op 7 Maart in Dunedin, op die universiteitsveld, begin.
Martin glo hulle is op koers hoewel Jacques Kallis en sy mede-kolwers nie sommer hul paaltjies op ’n skinkbord sal prysgee nie.
“Ons het met die laaste twee toetse gewys ons kan meeding. En ons kan nog beter word,” het Martin ná die toets teen Zimbabwe gesê.
Hy sê hulle het die spreekwoordelike vierde paaltjie aan die wegkant goed aangeval en dat die glipveldwerkers hulle uitstekend van hul taak gekwyt het.
“Ek dink nie ek het al ’n beter vangskoot gesien as dié een van Dean Brownlie waarmee hy Regis Chakabva uitgehaal het nie.”
Altesaam 13 van die 20 paaltjies was te danke aan vangskote agter die paaltjies.
Brownlie het vyf daarvan benut.
Doug Bracewell, wat nege paaltjies in die onlangse toets in Hobart teen die Aussies platgetrek het, het weer sy kant gebring met vyf paaltjies.
Suid-Afrika sal ook met Trent Boult en Tim Southee, asook die ervare draaier Dan Vettori te doen kry.
Martin, wat sy 37ste verjaardag met die geskiedkundige wegsege oor die Aussies gevier het, praat nog nie van uittree nie.
Hy het met sy agt paaltjies teen Zimbabwe Chris Cairns se 218 toetsslagoffers geëwenaar.
Nieu-Seeland was net so in hul noppies met die paaltjiewagter BJ Watling (102) se eerste honderdtal.
As ’n voormalige aanvangskolwer kan hy op nommer sewe goeie weerstand teen die nuwe bal bied.
Hy het ook vier vangskote benut en dit lyk of hy bo nóg ’n Suid-Afrikaner van geboorte, Kruger van Wyk, behou sal word.