Knoei-sage ‘ergste sedert Hansiegate’
2010-09-03 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
JOHANNESBURG
Die baas van wêreldkrieket het dié sport se nuutste knoeisage gister beskryf as “die grootste verleentheid sedert die Hansie Cronjé-skandaal” tien jaar gelede.
Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad (IKR), het die ongekende besluit van dié beheerliggaam – om drie Pakistanse spelers te skors weens hul beweerde betrokkenheid by wedstrydknoeiery – in ’n verklaring verdedig.
Salman Butt, die Pakistanse kaptein, en twee snelboulers, Mohammad Asif en Mohammad Amir, is eergisteraand laat geskors al duur ’n ondersoek deur Scotland Yard nog voort.
Dié drie het na bewering met beroepswedders saamgesweer om foutballe af te stuur tydens die verloor-toets teen Engeland in Pakistan se grootste loesing tot nog toe.
“Wat korrupsie in krieket betref, is dié voorval die ergste sedert die Hansie Cronjé-saak,” het Lorgat gesê.
Dié voormalige Suid-Afrikaanse kaptein het in 2000 erken hy het omkoopgeld van beroepswedders aanvaar en is gevolglik lewenslank geskors voordat hy twee jaar later in ’n vliegongeluk dood is.
“Natuurlik moes ons baie seker gewees het van die feite voordat ons dié besluit kon neem,” het Lorgat gesê.
“Ons moet nou nog net die laaste kolletjies verbind waarna ons dié besluit sal hersien.”
Intussen is die 18-jarige Amir, wat vroeër in die reeks die speler geword het wat die vinnigste tot nog toe 50 toetspaaltjies platgetrek het, gister verwyder van die kortlys vir die IKR se jaarlikse glanstoekennings.
Dié hotklou was een van die benoemings vir die nuweling van die jaar-prys.