Nicol verniel Zim-boulers
2012-02-06 10:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
WHANGAREI. - Die aanvangskolwer Rob Nicol het Zimbabwe se boulaanval Maandag hier verrinneweer en sodoende die grondslag gelê vir Nieu-Seeland se reuse-sege van 141 lopies in die tweede eendagwedstryd in die huidige reeks van drie wedstryde tussen dié spanne.
Nicol het 146 lopies van slegs 134 balle gemoker en sy span gehelp om 372/6 in sy toegelate 50 boulbeurte aan te teken.
Zimbabwe kon slegs 231/8 in sý 50 boulbeurte aanteken. Elton Chigumbura het 63 lopies tot dié totaal bygedra en Jacob Oram het 3/29 met die bal vir die Kiwi's geneem.
Nieu-Seeland het met dié sege ook die reeks beklink nadat hy met 90 lopies in die eerste eendagkragmeting geseëvier het.
Die Kiwi's het Zimbabwe ook met 'n beurt en 301 lopies geklop in die enigste toets tydens die besoekers se toer. - Sapa-AFP