Rekord wink vir Misbah se span
2012-02-02 21:45
DOEBAI. – Die Pakistanse krieketkaptein, Misbah-ul-Haq, glo dit sal ’n groot prestasie wees om Engeland as die nommereen-toetsspan ter wêreld met 3-0 in die toetsreeks in die Verenigde Arabiese Emirate te vermorsel.
Dié spanne is van vandag af in die derde en laaste toets hier slaags met Pakistan wat die eerste twee toetse en die reeks reeds beklink het.
Nog nooit in die geskiedenis van toetsreekse tussen dié lande, wat oor 58 jaar strek, het een van die spanne skoonskip in ’n reeks gemaak nie.
Pakistan het dus ’n gulde geleentheid om die rekordboeke te herskryf. Boonop kan Engeland sy plek bo-aan toetskrieket se wêreldranglys verloor as hy weer die knie buig en Suid-Afrika klop Nieu-Seeland aanstaande maand.
Engeland sal vinnig ’n teenvoeter moet vind vir Pakistan se draaibalboulers as hy nóg ’n nederlaag wil afweer.
Saeed Ajmal spog met 17 paaltjies ná twee toetse en Abdur Rehman het 12 platgetrek.
Misbah het gesê Pakistan sal die reeks ook spoggerig wil afsluit.
“Dit sal ’n groot prestasie vir die span wees (om met 3-0 te wen).
“As ons soos in die eerste twee toetse speel, sal ons wen, maar ons wil geensins daardie bykomende druk van ’n reekssege van 3-0 op ons laai nie.”
Die 37-jarige Misbah het in die nadraai van Pakistan se knoeiskandaal in Engeland in 2010 as kaptein oorgeneem en sedertdien het sy span agt wedstryde gewen en slegs een toets verloor.
Tog glo hy Engeland is steeds ’n goeie span en dat ’n derde oorwinning nie maklik gaan wees nie.
“Geen twyfel nie. Engeland is ’n goeie span en is nommer een in die wêreld en dit gaan nie maklik wees nie, want hulle gaan beter voorbereid wees. Maar ons gaan ons beste gee,” het hy gesê.