Titans het al een hand op beker
2012-02-10 21:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
KAAPSTAD. – Die vonkelwyn is al amper op die ys vir die Titans, wat na verwagting die SuperSport-reeks vandag in Centurion sal beklink.
Die Titans kort nog net drie Dolphin-paaltjies in die laaste twee dae van dié meerdaagse wedstryd op SuperSport-park om feitlik seker te maak van die titel.
As dit nie vir die reënweer die laaste paar dae op die Hoëveld was nie, sou die Titans die wedstryd binne twee dae voltooi het.
Die tuisspan het gister sy eerste beurt op ’n enorme 473/9 gesluit voordat hy die Dolphins vir net 62 in sy eerste beurt uitgehaal het. Die besoekers wankel op 81/7 in hul tweede beurt en moet nog 331 aanteken om die Titans weer te laat kolf.
Faf du Plessis en Heino Kuhn was die helde met die kolf, waarna Rowan Richards (3/12), Ethy Mbhalati (3/29) en CJ de Villiers (3/18) die verwoesting met die bal voortgesit het in die Kwazulu/Natallers se eerste kolfbeurt. Mbhalati (3/27) was in die tweede beurt ook kookwater.
Die Dolphins was só swak in dié wedstryd dat Krieket Suid-Afrika mooi sal moet dink voor hy planne deurvoer om plaaslike krieket van ses streekspanne tot 12 provinsies uit te brei.
Te oordeel na die Dolphins se powere vertoning in die eerste twee dae sal hul bestaansreg as ’n streekspan trouens bevraagteken moet word.
Die Titans en die Cape Cobras was voor die naweek se wedstryde kop aan kop in die stryd om die titel, maar die manne van die noorde het só goed met kolf en bal gevaar dat dit nou prakties onmoontlik gaan wees vir die Cobras om die titel te wen.
Die Titans het 10.46 bonuspunte ingesamel, teenoor die Cobras se skamele 2.00 tot dusver in sy kragmeting met die Lions op die Wanderers.
Die Titans het nou 119.28 punte teenoor die Cobras se 110.50.
Dit beteken dat die Cobras in sy eerste beurt vandag minstens 540 lopies in 100 boulbeurte moet moker én dan die wedstryd wen om die Titans verby te steek. Dít is ’n onbegonne taak.
Die Lions het gister op nóg ’n dag wat deur reën geteister is, stadig voortgekolf en 358/6 bereik met die uitskeityd.
- Op St. Georgepark in Port Elizabeth het die gesoute linkskolwer Arno Jacobs voortreflike kolfwerk vir die Warriors gelewer, skryf Henk Steenkamp.
Danksy Jacobs se beurt van 152 lopies (26x4, 2x6) het die Warriors ná twee dae hul neus voor in die stryd teen die Knights.
Die Knights sal vanoggend hul tweede beurt met die telling op 17/2 hervat, nog 61 lopies agter die Warriors.
Gisteroggend het die Warriors hul eerste beurt op 79/2 hervat en 318 aangeteken. Die toetskolwer Ashwell Prince (60) het Jacobs die beste ondersteun.
Johan van der Wath het sy blink kolfwerk in die eerste beurt met ’n puik boulvertoning vir die Knights opgevolg.
Hy het 5/61 laat kantel en die wegbreekbouler Werner Coetsee 3/92.