Titans voor in reeks ná sege oor Cobras
2012-01-29 21:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
BLOEMFONTEIN. – Die Titans het met hul sege oor die Cape Cobras in die Paarl die voortou in die SuperSport-krieketreeks geneem.
Terselfdertyd het die weer op die Wanderers die Knights gister teen die Lions gepootjie.
Die Titans (102.82 punte) speel in hul oorblywende twee wedstryde weg teen die Warriors en tuis teen die Dolphins, wat gister hul eerste sege in agt probeerslae behaal het.
Die Cobras (101.42) speel vandeesweek op Nuweland teen die Knights en sluit die reeks teen die Lions op die Wanderers af.
Die Knights (92.60) speel in hul laaste wedstryd in die Baai teen die Warriors.
Albie Morkel het met 54* Saterdag in die Paarl op nommer agt die wa deur die drif vir die Titans gekry.
Die besoekers het net 158 in hul tweede beurt benodig om te wen.
Op 68/6 het die Cobras nog na die wenspan gelyk.
CJ de Villiers (13*) het aan die einde op 122/8 hardnekkig saam met Morkel vasgeskop om die Titans te help om met twee paaltjies te wen.
Die Cobras sal hulself skop omdat hulle De Villiers ’n lewe gegun het. Sy sloeghou wat in die lug opgetrek het, het tussen twee veldwerkers te lande gekom.
Morkel, wat op die eerste dag die wedstryd met twee paaltjies in die eerste boulbeurt begin het en later ook sy 4?000ste lopie aangeteken het, is aangewys as die Speler van die Wedstryd.
In Johannesburg het die Lions 83/5 in hul tweede beurt teen die Knights gehad toe spel kort voor die teepouse weens swak lig gestaak is.
Reën het ook later uitgesak.
Reeza Hendricks (75), Boeta Dippenaar (46) en Ryan McLaren (41*) het die besoekers gehelp om hul tweede beurt kort voor middagete op 264/8 te verklaar.
Die Lions moes 323 in 74 boulbeurte aanteken om te wen.
Hulle het met reëlmaat paaltjies verloor met Quinton Friend (3/28) en Malusi Siboto (2/19) aan die spits vir die besoekers.
In Durban het die Dolphins in hul eerste wedstryd onder Lance Klusener as breier, ook hul eerste sege van die seisoen behaal toe hulle die Warriors gister met 227 lopies geklop het.
Die hotklou-aanvangsbouler Mthokozisi Shezi (5/26) het gister korte mette van sake gemaak.
Die Warriors, wat ’n teiken van 386 in hul tweede beurt gelaat is, is vir net 158 uitgeboul nadat hulle op 30/3 voortgekolf het.
Arno Jacobs (50) en Craig Thyssen (51) het op 49/5 vir ’n rukkie vasgeskop.
Die besoekers het daarna van 134/5 met Shezi en Imran Tahir (2/91) aan die spits ineengestort.
Die Warriors se Simon Harmer (73-22-201-9) het ook sy waarde as draaier getoon.