Berry déél straf uit
2012-02-05 21:36
PORT ELIZABETH. – Die rugbyskeidsregters is ernstig daaroor om onwettige spel by die afbreekpunte uit te wis.
Dít was Saterdag duidelik in die vriendskaplike wedstryd tussen die Southern Kings en die Bulls in die Nelson Mandelabaai-stadion.
Die Bulls het die kragmeting met 16-12 gewen, maar meer strafskoppe (17) as die Kings (15 afgestaan.
Verlede week het die skeidsregterbaas, André Watson, gewaarsku dat sy blasers ná ’n oefenkamp wakker moet wees.
Wakker was Stuart Berry beslis hier in die Baai.
Maar ondanks die baie strafskoppe, het hy nie onder kritiek van die spanne se breiers deurgeloop nie.
“Stuart Berry is ’n baie goeie skeidsregter en het volgens instruksies geblaas,” het Alan Solomons, die Kings-afrigter, gesê.
Ook Frans Ludeke, die Bulls-breier, was nie ontsteld nie.
“Dis duidelik dat ons aan ons spel by die afbreekpunte sal moet skaaf.”
Wedstryde soos dié in die vroeë seisoen gee breiers juis ’n kans om te sien wat reggestel moet word.
Ludeke was heel tevrede met sy naasbeste Bulls-span wat die Kings getroef het.
“Ek was veral bly dat hulle die druk teen die einde kon verwerk toe die Kings hulle so aangevat het.”
Dit was amper of die Kings het die kragmeting gewen en Solomons het tereg gesê sake was baie gelykop.
Sy span kan baie beter speel as wat hy het en daar kort veral op die aanval meer slaankrag. Dis helaas nie deur die plaasvervanger-losskakel, Earl Rose, wat taamlik kleigetrap het, verskaf nie.
Die Kings speel Saterdag teen die Stormers in nog ’n oefenwedstryd hier.
Daar sal vandag gehoor word hoe lank die Kings-flank Devin Oosthuizen (beenbesering), buite aksie sal wees.
Puntemakers:
Bulls 16 (16): Drieë: Sampie Mastriet, Jean Cook. Strafdoel: Louis Fouché.. Skepdoel: Fouché.
Kings: 12 (7): Drieë: Mzwandile Stick, Luke Watson. Doelskop: Louis Strydom.