PRETORIA. – Die plan was om te bly fokus op
hul eie spel en doelwitte en hulle nie te steur aan die eksterne faktore in die
Westpac-stadion nie, of dat hulle (al weer) teen Fidji in die kwarteindstryd
moes speel nie.
Só het die Blitsbokke se afrigter, Paul Treu, laat blyk nadat sy
sewesspan gister se eerste dag van die Internasionale Rugbyraad se
Wellington-toernooi in Nieu-Seeland met kliniese oorwinnings afgesluit het.
Suid-Afrika het met seges oor die VSA (21-0), Cook-eilande (43-0)
en Engeland (14-10) as wenner van Groep B geëindig.
Dit het die span vanoggend vroeg (Suid-Afrikaanse tyd) met Fidji
laat kragte meet.
Fidji was tweede in Groep C nadat Tonga hom vroeër verrassend met
17-14 verslaan het.
Dit was ’n rowwe dag op en van die veld af, met ’n toeskouer wat
tydens die laaste wedstryd van die dag, tussen
Nieu-Seeland en Samoa, op die
veld verskyn en ’n Samoaanse speler geduik het. Dié kêrel is een van agt
toeskouers wat in hegtenis geneem is.
Daar is ook 28 van die 31?500 toeskouers uit die stadion geskop,
glo ’n verbetering op verlede jaar se syfers.
Treu sal ook hoop die Blitse vaar beter as verlede jaar toe
Australië hulle in die kwarteindronde uitgeskakel het.
Die Blitsbokke was soos gewoonlik op dag een, soet en suur. Hulle
het puik sewesrugby in hul eerste twee wedstryde gespeel, met veral Steven Hunt
wat gedy het in die ruimte wat sy spanmaats vir hom geskep het.
Teen Engeland het die span weer in sy ou taktiek van stampkar-sewes
verval en eers nadat Branco du Preez met ’n paar hinkstappe vorendag gekom het,
is die Engelse geknak.
Die feit dat Cecil Afrika en Kyle Brown ruskans gegee is teen
Engeland, het dalk tot dié speelstyl bygedra.
Dit was straks ook ’n goeie sielkundige salvo deur Treu, wat sy
twee beste spelers doelbewus laat rus het en steeds die Engelse kon troef.
“Hulle was ’n bietjie styf en seer,” het Treu verduidelik.
In die ander kwarteindstryde het Nieu-Seeland teen Frankryk,
Engeland teen Tonga en Samoa teen Kanada gespeel.
Die wenner van die stryd tussen Suid-Afrika en Fidji, kom vanoggend
om 08:00 in die halfeindronde teen die wenner van Kanada en Samoa se kragmeting
te staan.
Kanada en Tonga het die grootste verrassings gelewer deur tot die
laaste agt deur te dring, met ander spanne soos Australië, Wallis en Skotland
wat teleurgestel het.