Bulls gesels oor Werner se rug
2012-02-06 22:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
PRETORIA. – Vaskopstutte, veral dié wat goed genoeg is om die uitmergelende Super-rugbyreeks te oorleef en selfs te oorheers, is so skaars soos hoendertande.
Daarom sal die Bulls-breier, Frans Ludeke, vandag lank met sy mediese span gesels oor Werner Kruger se beskikbaarheid vir sy span se finale opwarmstryd, Saterdag teen die Cheetahs in Polokwane.
Die Bulls se Springbok-stut sukkel met ’n rugbesering en hoewel dit volgens die spandokter, Org Strauss, “nie iets is om oor slapelose nagte te hê nie”, gaan hy die lang seisoen moet opweeg teen Kruger se fiksheid.
Gelukkig vir Ludeke het Frik Kirsten Saterdag sonder probleme teen die Kings gespeel en het Rayno Gerber ook flink gelyk gister, ondanks sy roes van ’n paar maande se rus.
Die Kings-stryd het juis twee slagoffers geëis, met Jano Vermaak (enkel) en JJ Engelbrecht (kuit) wat nie gister geoefen het nie, en Ludeke sal versigtig wees vir nog name op daardie lys.
Flip van der Merwe het boonop in die oefensessie weens ’n stywe kuitspier halt geroep en dit plaas Ludeke in ’n moeilike posisie.
Hy wil graag sy beste span teen die Cheetahs laat speel, veral omdat dit dié span se enigste speelkans sal wees voordat die Super-reeks op 24 Februarie vir die Bulls, teen die Sharks, afskop.
Tog kan ’n ligte besering nou later ’n lastige en daarna ’n chroniese een word, veral in Kruger se geval in die voorry.
“Ons sal môre (vandag) die finale mediese aanbevelings onder oë kry en daarna besluit wie gaan speel en wie nie,” het Ludeke gesê.
Die breier het ná die Kings-stryd, waar hy hoofsaaklik sy reserwekrag ingespan het, ’n beter idee wie hy in sy finale groep moet opneem.
Die meeste van dié spelers kry Vrydag nog ’n kans om kleim af te steek as hulle in ’n oefenwedstryd teen die Vrystaatse Vodacombeker-span speel.
Maar dit is in Polokwane waar Ludeke wil sien dat sy span se strukture in plek is.
Dit wil lyk of die Jong Bokkie Francois Venter aan die binnekant van Johann Sadie senter gaan speel en met Wynand Olivier nog krank en waarskynlik nie betyds fiks om teen die Sharks uit te draf nie, gaan daar duime vasgehou word dat die 20-jarige donkerkop die mas opkom.
Hy het reeds in die Curriebeker-reeks sy vaardighede uitgestal.
Lionel Cronjé behoort Vrydag kans te kry om sy aansprake op binnesenter te versterk ná ’n goeie vertoning teen die Kings in dié nuwe posisie vir die losskakel/heelagter en hy kan as ’n plaasvervanger Polokwane toe reis.