Geskenk vir Chiliboy op verjaardag
2010-09-07 22:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
PRETORIA
Die meeste van sy spanmaats oor die laaste agt weke rus dalk dié naweek, maar vir Chiliboy Ralepelle was daar gister die goeie nuus dat hy met die nr. 2-trui op die rug vir die Blou Bulle teen die Cheetahs gaan uitdraf.
Ralepelle het verlede week nog in Groen-en-Goud op Vodacompark sy land gedien, maar dié keer ruk hy as Blou Bul op met net een doel voor oë – om sy rugbyspan te help om ’n belangrike Curriebeker-oorwinning in Bloemfontein te behaal.
“Dit is ’n lekker verjaardaggeskenk vir my,” het Ralepelle, wat Saterdag 24 jaar oud word, gesê.
“Ek het vanjaar in my eerste toets teen Italië begin en in die Curriebeker teen die Luiperds opgedraf, so sien ek uit na dié een ook.
“Ek en Adriaan Strauss kom al ’n lang pad saam en geniet dit baie om teen mekaar te speel.
Daar sal seker ’n kopstamp of twee wees, maar daar is darem altyd nog ’n skrum om dinge weer reg te stel,” het Ralepelle met ’n groot glimlag gesê.
Volgens die haker wil die Blou Bulle hul momentum behou wat teen die Haaie opgebou is.
“Almal besef dit gaan ’n harde een wees, maar ons gaan nie soontoe om te verloor nie.”
Ralepelle se insluiting is een van minstens ses wat deur hul afrigter, Frans Ludeke, aangekondig sal word as hy vandag die span bekend maak.
Stefan Watermeyer sal weer as binnesenter gekies word in die plek van Wynand Olivier, wat weens sy Bok-kontrak nie beskikbaar is nie, maar dit sal die enigste gedwonge skuif agterlangs wees.
Francois Hougaard keer terug as skrumskakel in die plek van Ruan Snyman.
In die pak is Ludeke gedwing om die beseerde Dewald Potgieter en Fudge Mabeta te vervang.
CJ Stander sal in Potgieter se plek flank speel en die terugkerende Flip van der Merwe sal die nr. 4-trui dra.
Werner Kruger, wat weens ’n enkelbesering nie teen die Haaie kon speel nie, is weer fiks en sal op vaskop langs Ralepelle sak.
Frik Kirsten, wat Kruger op kort kennisgewing vervang het, word nie oorweeg nie nadat hy ’n borsbesering opgedoen het en Rossouw de Klerk sal weer die plaasvervanger-vaskop wees.
Met Gary Botha ook weer fiks, verloor Bandise Maku sy plek in die groep.
Deon Stegmann sal volgende week eers oorweeg word.
Die Bulle se waarskynlike span is:
Zane Kirchner, Gerhard van den Heever, Jaco Pretorius, Stefan Watermeyer, Jaco van der Westhuyzen, Jacques-Louis Potgieter, Francois Hougaard, Gerrit-Jan van Velze, CJ Stander, Derick Kuün (k), Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle, Dean Greyling.
Die plaasvervangers behoort Gary Botha, Jaco Engels, Rossouw de Klerk, Wilhelm Steenkamp, Okkie Kruger, Dustin Jinka en Stephan Dippenaar te wees.