Louis gee Boland skop; Kings hul rekord kwyt
2010-09-03 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
WELLINGTON
Die Boland-Kavaliers het weer skop! Ná vier agtereenvolgende nederlae in die Eerste Liga van die Curriebeker-rugbyreeks het die Bolanders gister op hul tuisveld met 41-21 oor die Valke geseëvier.
Ja, oukei, die manne wen weer, maar wat van Louis Koen se terugkeer, wil u seker weet. Dit was prima! Koen het die wedstryd in die eerste minuut met ’n strafdoel begin, nadat die Valke van die afskop af obstruksie gepleeg het.
By lywe van die steelkantflank Bradley Fortuin het die besoekers egter twee vinnige drieë ingeryg en het dit gelyk of Boland se onlangse afwesigheid op die verdediging steeds aanwesig was.
Twee moeilike strafdoele deur Koen en ’n langafstand-drie van die binnesenter Alex Kock het die Bolanders op 13-14 laat rus – sekerlik effens benoud.
Die Valke het van meet af aan ’n hoë tempo gehandhaaf en gate in die Boland se verdagte verdedigingstrukture probeer soek. En dit gekry.
Harde woorde is seker weer gespreek, want ’n meer doelgerigte spanpoging het die Boland se tweede helfte van die afskop af gekenmerk.
Die Bolandse buitesenter, Cornal Hendricks, het binne twee minute ’n bres van net binne sy eie helfte geslaan en Jeremy Plaatjies, linkervleuel, het afgerond. Ook hier het Koen met ’n moeilike doelskop van die kantlyn geslaag.
Die Valke het enige kans op ’n oorwinning in die daaropvolgende vyf minute weggesmyt toe hulle die man pleks van die bal begin speel het. Eddie Gauche, slot, en Theo Becker, flank, is in daardie tyd met geelkaarte gepos.
Laasgenoemde s’n was weens ’n laat duikslag op Koen. Dit het die Bolanders ’n strafskop in die Valke se kwartgebied besorg, en ná ’n paar fases het Hendricks gedruk. Koen het verdoel.
’n Verdere poging deur hom van sowat 55 m op die skuinste het net onderdeur die dwarslat geseil, en daarmee het Koen ná ‘n afwesigheid van drie jaar heel skaflik “uitgehelp”. Jacquin Jansen het die skopkegel oorgeneem en nog drieë deur Kock en PJ Vermeulen verdoel.
Gauche het met ’n minuut oor ’n troosdrie gedruk, maar die koeël was reeds deur die kerk. Amen.
Puntemakers:
Boland 41 (13):
Drieë: Alex Kock (2), Jeremy Plaatjies, Cornal Hendricks, PJ Vermeulen.
Doelskoppe: Louis Koen (3), Jacquin Jansen (2).
Strafdoele: Koen (2).
Valke 21 (14):
Drieë: Bradley Fortuin (2), Eddie Gauche.
Doelskoppe: Martin Thomsen (2), Japie Naude.
- Die Griffons het die OP-Kings gisteraand in Welkom met 27-18 geklop. Hoewel die Griffons kwaai uitgedun was, het die Noord-Vrystaters soete wraak geneem en ’n einde gemaak aan die Kings se segetog in die Eerste Liga van die Curriebeker-reeks.
Die OP het voor gisteraand ses keer agtereenvolgens gewen.
- In Oos-Londen moes die Suidwestelike Distrikte gisteraand in die Buffalostad-stadion hard werk vir sy oorwinning van 17-7 oor die moedige span van die Grens.