Rugby kry nou witkaart
2012-02-02 21:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
KAAPSTAD. – Dissipline sal die wagwoord van elke rugbyspeler in vanjaar se Super-reeks móét wees nadat bekend gemaak is dat geelkaarte nou ná wedstryde ook toegeken kan word.
Dié verwikkeling is deel van ’n proefneming met tugreëls wat vanjaar van toepassing sal wees. Dit is daarop gemik om die tugproses te vereenvoudig. Dis goedgekeur deur die Internasionale Rugbyraad, wat ook oorweeg om sy regulasies oor tugprosedures te hersien.
As alles volgens plan verloop, sal daar minder tugverhore en meer konsekwentheid wees in die strawwe wat opgelê word.
’n Terugwerkende geelkaart sal op ’n speler se rekord aangeteken word as ’n uitwysbeampte ná die wedstryd ’n voorval van ongeoorloofde spel raaksien.
Dis ’n potensieel verreikende verwikkeling omdat spelers ná drie geelkaarte in ’n reeks aan ’n tugproses onderhewig sal wees. Boonop kan dit op ’n rooikaart uitloop as die speler vroeër in die wedstryd reeds ’n geelkaart gewys is.
’n Skeidsregter sal in die toekoms ook die mag hê om gedurende ’n wedstryd met die wys van ’n witkaart dadelik die uitwysbeampte se aandag te vestig op ’n moontlike voorval van vuilspel.
Dit gebeur dikwels dat skeidsregters nie doodseker is nie, want daar is nie vir hulle ’n kykweer beskikbaar om hul vermoede te bevestig nie.
In só ’n geval sal die uitwysbeampte ná die wedstryd probeer om beeldmateriaal van die voorval te kry. Dit sal ook van toepassing wees wanneer ’n speler gedurende die wedstryd by die skeidsregter kla dat daar ’n voorval van vuilspel was wat nie raakgesien is nie.
Nog ’n interessante verwikkeling is dat ’n uitwysing of rooikaart nie noodwendig ’n tugverhoor tot gevolg sal hê nie. ’n Regsbeampte sal die besluit van ’n uitwysbeampte of skeidsregter bestudeer en oor die verdienste-likheid daarvan besluit.
Die regsbeampte is by magte om ’n telefoon-konferensie met die betrokke speler en sy verteenwoordiger te hou. Hy kan dan aan die speler ’n voorlopige “aanbod” maak om sy verwagte straf aan te dui.
’n Speler moet egter skuld beken vir ongeoorloofde spel voordat hy só ’n aanbod kan kry. Daar sal ’n volle tugverhoor wees as die speler nie die aanbod van die verwagte straf aanvaar nie.
Die verhoor-proses word ook vereenvoudig. Dit sal meestal per video- of telefoon-konferensie geskied, met persoonlike verhore wat slegs in buitengewone omstandighede toegelaat sal word.
Sanzar, as beheerliggaam, behou hom ook die reg voor om teen strawwe te appelleer as hy meen die bevinding was onregverdig of dat die regsbeampte ’n fout begaan het.
’n Speler kan soos voorheen ook teen sy straf appelleer.
“Sanzar het nog altyd geglo dat die tugproses verfyn kan word om eenvoudiger te wees en meer konsekwentheid in die bevindings te kry. Ons glo hierdie veranderinge is ’n stap in die regte rigting,” het Sanzar se uitvoerende hoof, Greg Peters, gesê.