PORT ELIZABETH. – Vandag se kragmeting tussen die Southern Kings en
die Bulls hier in die Nelson Mandelabaai-stadion is veronderstel om ’n
vriendskaplike een te wees.
Omdat dit so vroeg in die rugbyseisoen is, sal daar selfs mense
wees wat dit as ’n oefenwedstryd beskou.
Die Kings het egter verlede week in ’n soortgelyke wedstryd teen
die Cheetahs in Oos-Londen sy teenstanders gewaarsku dat daar vir hulle baie
meer op die spel is.
In ’n taai wedstryd het die hoogs gemotiveerde Kings goed gevaar en
die Cheetahs moes sweet om te wen.
Vanmiddag speel ’n totaal ander groep spelers vir die Kings, maar
die boodskap is dieselfde: Gryp jou kans aan en speel ’n kontrak vir volgende
jaar se Super-reeks los.
Die feit dat daar landwyd rugby-entoesiaste is wat neersien op die
Kings omdat hulle tot die Super-reeks toelating gekry het sonder die een of
ander promosie/relegasie-wedstryd, dien ook as motivering vir die plaaslike
span.
Ook vir die Bulls is daar baie op die spel.
Frans Ludeke, hul breier, het aangedui dat hy spelers soek wat sy
uitsoekspan se diepte kan aanvul.
Laat daar geen twyfel daaroor bestaan nie – dis nie ’n swak
Bulls-span wat Baai toe gestuur is nie.
Spelers soos die skrumskakel Jano Vermaak, die slot Wilhelm
Steenkamp en die haker Willie Wepener sal in die meeste ander franchises dalk
plek in die uitsoekspan kry.
Jongelinge soos die agtsteman CJ Stander, losskakel Louis Fouché en
die vleuel Sampie Mastriet het die talent om sterre in die toekoms te
word.
Die Kings is darem self nie ’n klomp kuikens nie.
Hul agttal behoort die besoekers deeglik te toets en die agterlyn
ken die pad doellyn toe.