Tuks mors met UJ in Pretoria
2012-02-06 22:05
PRETORIA. – Dis Tuks of Niks vir die span van die Universiteit van Pretoria in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks en gisteraand was daar oorgenoeg aanduiding dat dié span nie ná die reeks met leë hande gaan wees nie.
Sy sege oor die Universiteit van Johannesburg (UJ) hier in die TuksRugby-stadion het gewys dat Tukkies se aansprake nie net ydele praatjies is nie.
Daar is ’n hele paar wedstrydwenners in Tuks-geledere en met ’n paar eerlike werkers om die tempo hoog te hou en besit te verseker, gaan teenstanders vanjaar hulle keer moet ken as Clayton Blommetjies en Lohan Jacobs aan die gang kom.
Blommetjies was skitterend op die teenaanval en Jacobs se taktiese skopwerk deurslaggewend in ’n wedstryd waar die besoekers maar net nie aan die gang kon kom nie.
Hulle het ’n goeie span, maar het nie net hier teen ’n puik Tukkies nie, maar ook teen hulself gespeel. En só gaan jy nie op dié vlak wen nie.
Tuks het sommer vroeg toegeslaan toe Hayden Groepes met pragtige hande deurgewerk is.
’n Strafdoel deur Wesley Dunlop het Tuks met 10-0 laat voorloop voordat ’n drie deur Sous Mostert net voor die rustyd Tuks ’n wengaping gegee het.
Jono Ross het net ná rustyd oorgeval om ’n besluit te regverdig om eerder ’n aanvallende lynstaan te neem. Dit het die tuisspan met met 23-0 laat voorloop.
UJ kon eers ná ’n uur iets vir sy moeite wys toe hy uiteindelik kon afrond. Met die wind in hul blaaie en Jacobs wat deur sy eerlike pak gevoer is, kon die tuisspan daarin slaag om UJ in sy gebied vas te pen.
Puntemakers:
Tukkies 23 (18). Drieë: Hayden Groepes, Sous Mostert, Jono Ross. Doelskoppe: Wesley Dunlop (2). Strafdoel: Dunlop.
UJ 8(0). Drie: JR Esterhuizen. Doelskop: Guy Cronjé.
In Port Elizabeth het die Pukke die Madibaz met 26-16 geklop, berig Michael Green.
Die Pukke het verdien om te wen, hoewel hulle nie die veld aan die brand gespeel het nie.
Met die besoekers in ’n stadium net met 13 man op die veld ná twee geelkaarte, het die Madibaz steeds gesukkel om gate in die Pukke se verdediging te vind.
Puntemakers:
Pukke (26): Drieë: Tiaan Dorfling, Schalk Oosthuizen, Andrew van Wyk (2). Doelskoppe: Gerhard Nortier (2).
Madibaz (8): Drieë: Jaco Swanepoel, Quinton Crocker. Doelskoppe: Gerrit Smit, Bradley Kretzman.
Stephen Nell berig uit Stellenbosch dat die Maties, sonder om enigiets skouspelagtig te doen, verlede jaar se houtlepel-span, die Tshwane se Universiteit van Tegnologie (TUT), met 52-2 afgeransel het.
Puntemakers:
Maties 52 (26): Drieë: Wessel Coetzee, Grant Hattingh (3), Os Hamman (2), André Smith. Doelskoppe: André Kemp (4), Donald Stevens. Strafdoel: Kemp.
TUT 2 (2): Strafdoel: Ruan van Loo.
Die reeks het gister met ’n knal in Kaapstad afgeskop toe die Shimlas die kampioen, die Ikeys, met 38-10 oorrompel het.
Die Shimlas het reeds in die eerste tien minute twee drieë gedruk, berig Jóhann Thormählen.
Puntemakers:
Shimlas: 38 (18). Drieë: Kevin Luiters, PW van Vuuren, Pieter Rademan, Fanie van der Walt. Doelskoppe: Nico Scheepers (4). Strafdoele: Scheepers (3).
Ikeys: 10 (5). Drieë: Dillyn Leyds, Francois van Wyk.