WP steun Div in ‘nasionale belang’
2010-09-07 22:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
KAAPSTAD
Ondanks uiteenlopende menings oor hoe sommige gekontrakteerde Springbokke vir provinsiale diens aangewend moet word of nie, het Allister Coetzee, breier van die Westelike Provinsie, gister sy steun aan die nasionale rugby-afrigter toegesê.
“In wat ook al Peter de Villiers nou in nasionale belang wil doen, gee ek hom my volle ondersteuning.
As dit beteken dat sekere spelers nou moet rus, staan ons heelpad agter hom,” het Coetzee gesê.
’n Gekontrakteerde Bok, soos Ricky Januarie, sou volgens sommiges se mening nou met speeltyd eerder as ’n kondisioneringsplan kon doen.
Of die WP Januarie bo sy onderkaptein, Dewaldt Duvenage, sou inspan, is egter te betwyfel.
“Kondisionering op sy tyd is nooit ’n slegte idee nie. As jy goed wil speel, moet jy tog eerstens fiks wees,” het Coetzee gesê oor van die Bokke wat lanklaas aaneen gespeel het.
“Ontevredenheid oor hoe van hierdie spelers bestuur moet word, is kantoorpraatjies, terwyl ek op die Curriebeker-reeks wil fokus.
Ek is net verheug dat ons die naweek vir Jean de Villiers, Juan de Jongh en Gio Aplon terug het,” het Coetzee gesê.
Die span wat Saterdag teen die Luiperds speel, word vandag aangewys.
Na verneem word, sal hierdie Bok-trio saam met die losskakel Lionel Cronjé in die beginspan wees.
“Hierdie is ’n ideale geleentheid om ons diepte ook op losskakel uit te bou,” het dié breier oor sy besluit gesê.