Wat laat spul onbeproefde Leeus nou brul?
2010-09-07 22:11
JOHANNESBURG
Die Leeus se rugbybreintrust het tog ’n plan gehad met die keuse van ’n klomp skynbaar onbekende spelers in dié span se agttal.
Terwyl Franco van der Merwe, JC Janse van Rensburg al bekende name in die Goudstad geword het, sou selfs ’n Leeus-ondersteuner jou dalk met ’n vraagteken op die gesig aangekyk het as jy ’n jaar gelede van Martin Bezuidenhout, George Earle, Josh Strauss, Derick Minnie, Warren Whiteley en in ’n mindere mate Ross Geldenhuys gepraat het.
Dit is die Leeus se voorspelers wat die span Vrydag tot sy vierde agtereenvolgende Curriebeker-oorwinning aangevuur het.
Wanneer so ’n onbeproefde spul dan skielik begin presteer, moet dit iets met nuwe selfvertroue, nommerpas-kombinasies of harde werk te make hê.
Die laaste moontlikheid is die een wat die Leeus se voorspeler-afrigter, Johan Ackermann, uitlig.
“Dit is omdat die outjies bereid is om die harde werk in te sit. Daarvoor moet ek hulle krediet gee.
Hulle het ondanks die uitslae van wedstryde elke Maandag ewe hard gewerk.
“Ek dink die ouens begin vir mekaar omgee en onder voorspelers kan dit veral ’n verskil maak,” sê Ackermann.
Onder die losvoorspelers is Minnie ’n plaaslike produk, terwyl Whiteley uit die Haaie se akademie en Strauss van die Maties afkomstig is.
Hul spel in Vrydag se sege oor die Westelike Provinsie op Coca-Colapark het ’n mens skielik laat wonder vir wie die Leeus voortaan almal kan plek maak as beseerdes soos Cobus Grobbelaar, Wikus van Heerden, Trevor Hall en Jonathan Mokuena weer reg is.
“Maar ons losvoorspelers kan nog baie groei in hul rolle,” waarsku Ackermann die Leeus se teenstanders.
“Onthou dat dit ’n baie groot stap vir veral Warren en Josh is, want dit is hul eerste jaar van Curriebeker-rugby.
Josh moet die tree van die Varsitybeker na die Curriebeker-reeks maak, maar albei spelers lyk weekliks meer gemaklik.”
Earle en Van der Merwe is die slotpaar waarmee die Leeus ’n paadjie wil stap, hoewel Earle dalk weens harsingskudding nie Saterdag op Coca-Colapark teen Griekwas sal kan speel nie.
In so ’n geval sal Joe Snyman, wat die speler van die wedstryd in die oorwinning oor die Luiperds was, by hom oorneem.
In die voorry hou Ackermann met belangstelling die vordering van sy twee jong hakers, Bezuidenhout en Edgar Marutlulle, dop.
Wat die stutte betref, het Janse van Rensburg en Geldenhuys teen die WP hul beste vertoning van die jaar gelewer en gewys dat die onlangse vertrek oorsee van Heinke van der Merwe en Gert Muller nie ’n doodskoot vir die Leeus-skrum was nie.
“Dit was ’n slag toe Heinke en Gert weg en Kevin Buys beseer is, maar JC, Ross en Wayne Swart moet nou die wa trek en gelukkig doen hulle dit sover goed,” sê Ackermann.
Hy waarsku sy pak egter dat Griekwas in hul laaste klomp wedstryde baie goed geskrum het en glo buitendien nie sy span het al genoeg gevorder sodat hy kan spog nie.
“As jy wen, is die lyf nie so seer by die volgende week se oefening nie. So dit is lekker en ek gun dit vir hulle, want dit was ’n moeilike jaar sover.
“Die ouens het nooit teruggestaan vir harde werk nie. Maar dit is reg so, want ons het eintlik nog nie veel bereik nie.”