Mpumalanga: Druk teen wêreldkampioen
2011-04-29 09:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Middelburg. – Terence Opperman bult sy spiere vir die kragmeting met ’n wêreldkampioen wat hy hoop om môre te verslaan.
Dié kragtige 25-jarige armdrukker van eMalahleni (Witbank) kom dan teen John Brzenk, 25 keer internasionale wêreldkampioen, te staan.
Opperman sal by die Windmill Casino in Bloemfomtein ses keer met die linkerarm en ses keer met die regterarm teen die Amerikaner druk.
“Ek weeg nou sowat 105 kg en probeer om gewig op tel vir die vertoon-kragmeting.
Ek wil 107 kg weeg wanneer ek teen Brzenk deelneem. Brzenk weeg nou sowat 102 kg,” vertel Opperman.
Volgens hom vind dié geleentheid in dieselfde naweek as die Suid-Afrikaanse armdrukkampioenskap plaas.
Dié kampioenskap vind ook in Bloemfontein plaas, maar op ’n ander plek.
“Die deelnemers vir die kampioenskap sal vandag eers links druk en Saterdag regs.
Die ses bestes sal die aand by die casino in ’n rondomtalie teen mekaar meeding.
Dit sal die hoogtepunt saam met my en Brzenk se vertoning wees,” sê hy.
Opperman sal nie die naweek in die Suid-Afrikaanse kampioenskap meeding nie.
Hy neem sedert 2005 aan hierdie sport deel en het al verskeie nasionale titels opgeraap.
Hy is sedert 2008 die Suid-Afrikaanse kampioen en het al aan die wêreldkampioenskap in Japan, Italië en Amerika deelneem.
Sy grootste teenstander tot dusver was Armen Chapukhyan van Armenië.
“Nog elke keer wat ek teen hom gedruk het, was dit ’n hengse geveg en het Armen my net-net geklop.”
Opperman bewonder Micheal Todd van Engeland wat as The Master bekend staan.
Todd, ’n professionele armdrukker, het Opperman al met vier teen twee punte geklop.
Opperman is ’n amateur en het nog nie planne om professioneel arm te druk nie.
Hy maak ’n bestaan as verkoopsverteenwoordiger van mynboutoerusting.
Hy volg ’n streng daaglikse oefenroetine, maar nie ’n streng dieet nie.
Hy het onlangs vir oefening teen 59 mense in Nelspruit arm gedruk en prysgeld aangebied vir iemand wat hom kon klop.
Die mense het kort op mekaar se hakke voor Opperman by die tafel gestaan, maar stert tussen die bene weggeloop.
Opperman het op skool al in sport uitgeblink.
Hy het vir die HTS Witbank se eerste rugbyspan uitgedraf, saam met die SA Bokkiespan (o.19) na Argentinië getoer en is ook vir die Pumas se Hoëveldspan (o.21) gekies.
“Ek het ook in 2002, toe ek 17 jaar oud was, die Suid-Afrikaanse amateur-stoeikampioenskap gewen.
Ek het toe 76 kg geweeg, maar het in die 86 kg-afdeling deelgeneem.
“Ek dink dit het nogal gehelp met die armdruk waaraan ek later begin deelneem het,” sê hy.
Opperman glo dat armdruk meer tegniek as krag behels. Dit help ook as jy swaarder weeg.
Hy is lief vir die sport omdat sy gesin hierby betrokke kan wees.
Sy vrou, Nanette (24), seuntjie Durandt (2), en dogtertjie, Desire (9 maande), het al saam met hom wêreldkampioenskappe bygewoon.

Terence Opperman beweeg in vir sy kenmerkende blitsige oorwinningsaanslag.