Tshwane: Dak-twis lei tot skade
2012-02-01 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Hy het nou nie eens ’n dak oor sy kop nie en sy paar besittings het sopnat gereën.
Mnr. Wynand Aldridge (33), ’n inwoner van die Sonheuwel-woonwapark in Bon Accord, noord van Pretoria, se houthuisie is sedert verlede Saterdagoggend sonder dak.
Dít kom nadat die eienaar van die park, mnr. Thinus (Dup) du Plessis, nog ’n inwoner glo aangesê het om die sinkdak van Al- dridge se huisie te verwyder omdat Aldridge nie sy huurgeld betaal het nie.
Van die ander inwoners het onder meer seile en stukke saamgeperste hout aan Aldridge gegee wat solank as “dak” kan dien.
Aldridge het gesê hy bly al 12 jaar in dié park. Hy deel die huis met me. Alet Lee en hul twee dogters.
“Ek vra oom Dup al twee jaar lank om my huis se dak reg te maak. Dit lek orals,” het Aldridge gesê. “Ek het besluit as hy (Du Plessis) nie my dak kom regmaak nie, gaan ek net die helfte van my huur betaal.”
En dis presies wat Aldridge toe gedoen het.
Aldridge se huur beloop R1 350 per maand, maar hy het verlede maand slegs R700 betaal en net R1 000 in die vorige maande.
“Ek voel nie ek skuld hom (Du Plessis) nie, want my dak lek in sy glorie in en ek ly net al hoe meer skade.”
Hy het vertel hoe die gesinslede moes rondskarrel om hul besittings te probeer red soos die reën by hul huis ingestroom het.
“Ek moes selfs my kind se skoolrokkie red, anders het sy niks gehad om skool toe aan te trek nie. Alles is nat. My bed, my kinders se bed, sitkamermeubels en matte.”
’n Mikrogolfoond, TV-stel en wasmasjien het glo ook in die slag gebly.
Volgens Aldridge het Du Plessis wel ’n paar maande gelede by sy huis aangekom met verf om die dak mee te herstel.
“Hoe maak ’n mens ’n dak reg met verf? Hy (Du Plessis) hoef nie ander sinkplate te koop nie; ’n seil sal ook doen.”
Du Plessis het gesê hy het juis Aldridge se dak laat afhaal om dit te laat herstel.
Hy beweer Aldridge skuld hom al R9 000.
“Ten spyte hiervan het ek steeds sy huis se dak laat afhaal om reg te maak,” het Du Plessis gesê.
Volgens hom is daar nie nou sinkplate beskikbaar om dit te kan herstel nie.
Op Tshwane-Beeld se vraag waarom die dak dan verwyder is as daar nie sinkplate vir die herstelwerk beskikbaar is nie, het Du Plessis geantwoord hy het niks meer om te sê nie en die oproep beëindig.

Mnr. Wynand Aldridge, ’n inwoner van die Sonheuwel-woonwapark in Bon Accord, wys die reënskade wat aangerig is sedert sy huis se dak verlede Saterdag “vir herstelwerk” verwyder is. Foto: Theana Breugem