Tshwane: ‘Kinders, leer oor ons land ,’ sê hoë
2009-09-30 08:04
Paul Mashatile, adjunkminister van kuns en kultuur, het verlede week ’n werksbesoek aan die Voortrekkermonument-erfenisterrein gebring.
Mashatile, vergesel deur ’n topamptenaar van sy departement, wou hom vergewis van die omstandighede van die monument en die Erfenisstigting, maar wou veral meer uitvind hoe Afrikaners die bewaring van hul kultuurhistoriese erfenis ná 1994 beleef en die pad vorentoe sien.
Tydens die besoek het genl.maj. Gert Opperman, uitvoerende hoof van die Voortrekkermonument- erfenisterrein, Mashatile breedvoerig hieroor ingelig.
Mashatile kon ook die Voortrekkermonument- erfenisterrein as sentrum van uitnemendheid – as erfenisinstansie sowel as toeristebestemming van internasionale standaard – eerstehands ervaar.
Ná die voorligting het die adjunkminister die monument, die muur van herinnering wat ter ere van afgestorwe SAW-lede in aanbou is asook die erfenissentrum besoek.
Op sy toer het Mashatile ’n groep besoekende skoolkinders op die trappe raakgeloop en hulle bedank vir hul besoek. Hy het hulle aangemoedig om meer te leer oor die land en sy mense se kultuurerfenis.
Ongeveer 700 leerlinge van ’n groot verskeidenheid skole, van sover as Thohoyando in Venda, was gedurende die loop van die oggend by die monument.
Volgens Opperman is sulke besoekersgroepe baie welkom aangesien dit die belangstelling by die jeug in erfenisbewaring prikkel en ook help om die leemte te vul wat gelaat word deur die afname in internasionale besoekers aan Suid-Afrika.
Die adjunkminister is gretig om die moontlikhede van beter samewerking tussen die staat en private bewaringsinstansies soos die Voortrekkermonument te ondersoek.
Hy is ook ten gunste van die soeke na aanvullende en ander moontlikhede van finansiering om sulke instansies beter te ondersteun.
Hy het opdrag gegee dat sy departement ’n taakspan moet saamstel met die oog op die volhoubare bewaring van Afrikaners se erfenisgoed op lang termyn.