Tshwane: Klim na hoogste piek bring hoop
2012-02-01 06:00
Uhuru, die naam van een van die pieke van Kilimandjaro, beteken “vryheid” in Swahili.
’n Groep van 43 vroue van oor die wêreld heen, insluitende agt van Suid-Afrika wat onlangs op die Uhuru-piek gestaan het, hoop om vir duisende vroue vryheid van onderdrukking, uitbuiting en mensehandel te bring.
Dit was ’n simboliese ekspedisie, maar ook een wat hopelik die kollig op hedendaagse “slawerny” sal plaas.
Met die gepaardgaande geldinsameling sal hulp verleen word aan ’n rehabilitasiesentrum in Indië vir vroue wat by tempelprostitusie betrek word.
Nog projekte van Operasie Mobilisasie (OM), ’n sendingorganisasie, sluit in hulp aan kinders en MIV-slagoffers in Kosovo, Kambodja en Ghana.
Altesame 48 vroue het op 11 Januarie, die internasionale dag teen mensehandel, met die Freedom Climb-ekspedisie begin.
Op Sondagoggend 15 Januarie, kort ná dagbreek, het 43 van hulle bo-op die berg gestaan. Onder hulle was me. Cynthia Courtney, ’n ouma van Pretoria wat 62 jaar oud is. Ook in die groep was die Pretorianers mee. Annelize Theunissen, Corné van Aswegen, Suria Scholtz, Esmarie Taljaard, Hettie Brittz en Ellenore Meyer-Van den Heever.
Brittz was vroeër in die nuus nadat sy en haar man in hul huis deur rowers oorval en sy verkrag is. Sy het vroeër gesê sy wil op die kruin van Kilimandjaro staan ter wille van vroue wat veel meer onder verkragting ly as wat sy moes.
Meyer-Van den Heever is ’n dokter by Medunsa wat ook ’n meestersgraad in etiek en regte het en aan die hoof staan van die bio-etiek-departement by Medunsa.
Volgens die groep is sy mikpunt vir vanjaar om ’n verskil in die lewe van 10 000 vroue te bewerkstellig ten einde die siklus van armoede, slawerny, skaamte en wanhoop te verbreek.
Die simboliese klim met die gepaardgaande pyn, moegheid, naarheid en vasbyt tot by die piek van vryheid – Uhuru – sal volgens hulle hoop gee aan ander wat nog nie by vryheid uitgekom het nie.
Maar bowenal hoop hulle deur hul boodskap van hoop weer en weer oor die wêreld heen uit te stuur, sal meer mense van die uitbuiting van vroue en kinders kennis neem.