Tshwane: Klofies dribbel 510 km vir nuwe astro-baan
2012-02-01 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Om ’n hokkiebal tien dae lank en 510 km ver te dribbel sit nie in enigiemand se broek nie.
Die Klofie Survivors het gewys hulle skrik nie vir ’n uitdaging nie, want dit is presies wat dié leerlinge van die Hoërskool Waterkloof die afgelope vakansie gedoen het.
Al wat nou oorbly is seer spiere, goeie herinneringe en hopelik ’n wêreldrekord.
Hokkiespelers van dié skool het die uitdaging aangepak om geld in te samel vir ’n nuwe astro-hokkiebaan by Klofies en ook om ’n wêreldrekord op te stel.
Volgens me. Emelia Janse van Rensburg, organiseerder van die rekordpoging, het 32 hokkiespelers deelgeneem aan die projek, wat in Musina begin en in Pretoria geëindig het.
“Die kinders het twee-twee gedribbel vir so 2 km op ’n slag,” sê Janse van Rensburg.
Hulle sal eers later vanjaar weet of dié poging wel ’n wêreldrekord is, hoewel niemand nog voorheen so iets probeer het nie.
’n Polisiemotor, asook nooddienspersoneel, het die leerlinge vergesel. “Daar was darem geen ernstige beserings nie,” sê Janse van Rensburg.
Tshwane-Beeld was daar om die leerlinge terug te verwelkom na dié lang tog, maar die spelers het glad nie uitgeput gelyk nie.
“Dit was verskriklik lekker,” sê Claudia Tredoux (17). “Die hitte was soms erg en veral die groot berg net voor Louis Trichardt was ’n uitdaging.”
Carla Kruger (17) sê sy het baie nuwe maats gemaak.
“Ons het nooit eens moeg geword vir mekaar nie. Dit is flippen cool om te kan sê dat ons name dalk in die rekordboeke gaan wees,” meen sy.
Twee 14-jarige seuns, LouFrans Esterhuizen en Wernard van Zyl, het die meeste kilometers afgelê.
“Ek het 58 km gedribbel en LouFrans 49 km,” sê Wernard.

LouFrans Esterhuizen (links) en Wernard van Zyl (albei 14) van die Hoërskool Waterkloof in aksie in die laaste skof na dié skool se rugbyveld. Hulle was lid van ’n groep van 32 hokkiespelers wat ’n hokkiebal 510 km gedribbel het – vir geld vir ’n hokkiebaan en dalk ’n wêreldrekord. Foto: Lisa Hnatowicz