Tshwane: Lappe Laubscher delf in die geskiedenis
2012-02-01 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Iets wat my nog altyd pla is die verskille tussen ons mense.
’n Kapenaar dink en doen nie soos die mense noord van die Vaalrivier nie. Die Vrystaters dink en doen nie soos die mense in die Kaap of hul noordelike bure nie.
Tog, mense gooi maklik die begrip Afrikaner rond, so of ons almal moet eenders wees. En dié wat anders is en nie eenders is nie, word so maklik met woorde beskilder, beskinder en beswadder.
Die anders en nie eenders nie word natuurlik bepaal deur die bril op jou neus.
Hensopper, joiner, Sap, verkramp, verlig. In die hoge Afrikanerkringe is dit deesdae dogmatikus, agnostikus en fundamentalis wat rondgeslinger word. En dan is daar die byname.
In my skoonfamilie is daar ’n oorvloed Piete. Daar is Piet Lokke, Klein Piet (’n man van oor die twee meter) en seun van Piet Kwak (’n dokter) en Piet Hare. Dan is daar nog Piet Pad, ’n ingenieur.
Toe hy hom jare gelede aan sy aanstaande skoonfamilie gaan voorstel het, wou hulle weet wat hy vir ’n lewe doen. “Ek is ’n padmaker,” was sy antwoord.
Sy halfdowe skoonpa het “pad- bereider” gehoor en dadelik toestemming gegee dat sy dogter met dié Piet kon trou.
Dit is ’n storie wat Piet Hare my nou die aand van sy ouma vertel het wat my weer aan al die name en verskille laat dink het.
Hy het in die Riemland grootgeword. Toe hy ná skool op Stellenbosch gaan studeer het, moes hy eers sy bejaarde ouma gaan groet.
Sy was nou ’n vrou wat stories gehad het om te vertel. As ’n jong meisie het sy gedurende die Anglo-Boereoorlog vir die Engelse in ’n meelkas weggekruip. Daar het hulle haar gekry. Die Tommies het dié keuse gehad: gooi haar met meelkas en al in die vuur of los die klein helkind in vrede. Hulle het laasgenoemde opsie geneem.
Dalk was daar ’n joiner tussen die Kakies wat hulle kon waarsku dat sy ’n Van Deventer was – en met ’n Van Deventer uit die Oos-Vrystaat soek jy nie skoor nie.
Maar toe Piet Hare jare later vir haar verduidelik waaroor sy groetery nou gaan, bly sy ’n oomblik stil.
“Stellenbosch, sê jy?”
“Ja, Ouma.”
“Daar in die Kolonie gaan jy baie Engelse raakloop. Onthou altyd hulle is die vyand. Maar jy gaan ook baie Transvalers ontmoet. Vir hulle moet jy versigtig wees.”
“Hoe bedoel Ouma nou?”
“Onthou net wat ek vir jou gesê het. Laat dit goed gaan, my kind.”