Tshwane: Nog ’n dag van liefde – en bederf!
2012-02-01 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Treinrit, ’n trekker en ’n dag by die dieretuin is al wat nodig was om klein Gert Bruyns (3), by wie nefroblas- toom (’n niergewas) onlangs gediagnoseer is, se drome te bewaarheid.
Dié seuntjie se drome het waar gekom danksy die Reik na ’n droom-stigting en die Menlyn-winkelsentrum.
Gert se oggend het begin met ’n rit op die Gautrein.
“Dit was vir hom baie lekker,” vertel me. Tina Bruyns, sy ma.
“Elke keer as hy ’n trein sien het hy sy hand uitgesteek en opgewonde daarna gewys.”
Gert, ’n diereliefhebber, is later die dag na die Nasionale Dieretuin geneem en kon nie wag om veral die olifante te sien nie.
Tussen al die opwinding deur het hy ook ’n speelgoedtrekker present gekry.
“Hy was nog altyd lief vir diere. Sy gunsteling is ’n perd. Ons het twee perde op ons plot in Delmas,” vertel sy ma.
Sy sê liefde en die Here gee hulle krag om elke dag op te staan sedert hulle gehoor het van Gert se siekte.
“Ek vertel vir hom dag en nag hoe lief ons hom het.”
Mnr. Gert Bruyns sê sy seuntjie is sterk en veg hard terug teen die siekte.
“Hy is baie moeg en geïrriteerd en dra weer doeke,” voeg sy vrou by.
Gert kry sy chemoterapie- sessies by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria.
Gert se bederfdag volg nadat die Menlyn-winkelsentrum R43 000 aan die Reik na ’n droom-stigting geskenk het.
Volgens me. Yolande le Grange, takbestuurder van die stigting, gaan hulle elke sent gebruik om kinders by wie lewensgevaarlike siektes gediagnoseer is, se drome waar te maak.

Klein Gert Bruyns (3), by wie nefroblastoom gediagnoseer is, doenig met van sy presente. Sy drie grootste drome het onlangs waar geword: Hy is bederf met ’n rit op die Gautrein; ’n besoek aan die Nasionale Dieretuin; en die speelgoedtrekker wat hy so graag wou hê. Foto: Alet Pretorius