Tshwane: Probeer en leer is eetklub se motto
2012-02-22 10:57
Aartappels, rys en vleis nie vir hulle
Turksvy- en kokosneutsop met granaatpitte, asook hoenderlewerpatee met goue jellie.
Dié is nie geregte wat deur professionele sjefs voorberei word nie, maar deur ’n groep vriende wat al die afgelope 12 jaar elke maand bymekaarkom om hul kos-horisonne te verbreed.
Die Trail and Error-eetklub het in 2000 ontstaan toe drie paartjies besluit het om hul vaardighede in die kombuis op te skerp.
Volgens mnr. Jacques de Klerk is dit heerlik om meer te leer oor kos en om kanse te waag. “Nog nooit het ons iets voorberei wat geheel en al geflop het nie. Ek en Inge, my vrou, proe maar net heeltyd aan als terwyl ons kook,” lag hy.
Die manne het Valentynsdag vanjaar ekstra spesiaal gemaak toe hulle die vroue verras het met ’n heerlike ete. “Ons het regtig uit ons pad gegaan om dié dag spesiaal te maak vir ons vroue. Elke vrou is aangesê om ’n spesifieke kleur aan te trek en ons het gereël dat ’n chauffeur hulle gaan haal,” sê De Klerk.
Die manne het ook die houtdek van ’n gastehuis in die Moot in ’n romantiese wonderwêreld omgetower.
Volgens De Klerk het die lede van die eetklub geleer om verskeie geregte te eet.
“Van ons het byvoorbeeld nooit ons lippe aan ’n tamatie gesit nie, maar nou doen ons.
“Ons reëls bepaal dat jy verplig is om aan al die geregte te proe en jy mag ook nie resepte voor die tyd toets nie,” sê hy.
Die paartjies maak beurte om kos voor te berei. Volgens mnr. Gerhard Potgieter, ’n lid van dié eetklub, maak hulle nuwe en interessante disse.
“Ons maak glad nie meer jou tradisionele vleis, groente en aartappels nie,” sê hy.
Volgens sy vrou, me. Linda Potgieter, het sy geleer om verskillende kruie te gebruik.
“Bestandele wat jy nie gedink het kan saam werk nie, het ek agter gekom werk saam,” sê sy. Sy vertel dat dié eetklub ook goed is vir haar en Gerhard se verhouding. “Ons werk goed saam in die kombuis en dis lekker om te sien hoeveel moeite hy vir my doen.”
Na al die jare vertel die lede dat hulle steeds elke maand met nuwe idees vorendag kom.
“Ons kry oral inspirasie vir nuwe resepte. En dis ook sommer ’n verskoning om net lekker saam met ons vriende te kuier,” sê me. Potgieter.

Die Trial and Error-eetklub se lede. Links agter staan Linda en Gerhard Potgieter, langs hulle staan Mina en Dieter Warschuhl en Inge en Jacques de Klerk leun voor.