Tshwane: Voeg folk by dans en siedaar
2010-05-26 08:13
Celine Dion gebruik hulle. Madonna ook.
En nou gaan die Pretoriase folkrock -sangeres Andra ook die verhoog met ’n groep dansers deel.
Maar dis nie sommer enige verhoog nie.
En die agt lede van die Pretoriase dansgeselskap Kmad wat vroeg volgende maand saam met Andra in die Staatsteater se Arena optree, gaan allesbehalwe ’n groepie shoo-bee-doo-wap-dansers wees wat die musiek net so ’n bietjie inkleur.
“Met die dans, die beweging, wil ons die siel in Andra se stories, in haar lirieke uitbring. Jy weet, sy gaan haal daai emosie díép, en ek wil hê die dansers moet dieselfde intensiteit hê,” gesels Kelsey Middleton, die artistieke direkteur van Kmad.
Middleton vertel dat sy die Namibies gebore Andra vir die eerste keer op die Aardklop-kunstefees hoor sing het.
“Ek was deel van ’n groep, en almal se monde het oopgehang. Almal in daai gehoor het geweet iets great is hier aan die gebeur. En ek het geweet dat ek iewers, eendag saam met haar wil werk.”
Dit het ’n ruk geneem voor dié samewerking ’n werklikheid geword het, maar die ongewone samevoeging van folkrock en dans in Lady Rocks the Blues was nie vir Andra ’n probleem nie.
“Toe Kelsey my nader oor die byeenbring van my musiek met dans, was die idee vir my intriguing. Samewerking tussen verskillende kunstenaars is deesdae algemeen, maar ek reken dis die eerste keer dat dans en folk-rock só saamgegooi word. En nee, ek gaan nie saamdans nie,” sê sy laggend.
Sy voel sterk daaroor dat die musiek en dans mekaar volkome moet aanvul en dat die een nie die ander moet oorskadu nie.
“Dis ’n huwelik.” Sy hoop dat die kruisbestui-wing van tipes gehore meer vol stoele sal beteken. “Om iets nuuts in Pretoria te probeer is soms tricky,” meen sy.
“En dansgeselskappe oorleef moeilik,” voeg Middleton by. “Moenie my vra hoekom nie, maar Pretoria het nou eenmaal net nie ’n groot dansgehoor nie.”
Daarom is sy so dankbaar vir die toelae van die Nasionale Kunsteraad wat Lady Rocks the Blues help moontlik maak het.
“So laat weet vir die mense hulle moet net kom kyk. As hulle dans een keer beleef het, sal hulle weer kom.”
Lady Rocks the Blues se speelvak begin op 1 Junie in die Arena.
Lede van die publiek kan by Computicket bespreek vir die vier optredes vanaf Donderdag 3 Junie tot Sondag 6 Junie.