Wes-Beeld: Al stappende versprei twee elke oggend boodskap van hoop, geloof
2012-02-09 23:26
Hy stap al meer as twee jaar lank elke oggend 8 km om ’n boodskap van hoop vir motoriste te bring.
Die pensioenaris Martin van Eck (62) van Rangeview in Krugersdorp noem dit sommer sy “deurry-kerk”.
Geklee in een van 45 spesiaal gedrukte T-hemde met ’n Christelike boodskap stap Martin getrou sedert September 2009 om motoriste in spitsverkeer te herinner dat die Here nog lewe.
“Hy (die Here) is in beheer van elke situasie en hy gee nog om vir mense,” sê Martin, wat daagliks om 06:10 reeds die eerste tree uit sy erf na Bellstraat op die dorp gee.
Dan durf hy die langpad na die Noordheuwel-winkelsentrum en die steiltes en afdraandes van die mooi landskap langs Robert Broom-rylaan aan voordat hy teen 07:30 by die huis gaan asem skep.
En dit is hier in Robert Broom-rylaan tussen Noordheuwel, Rangeview en Roodekrans, waar mens Martin veral so teen 06:30 nié kan miskyk nié.
Soos die motors se buffers byna teenaan mekaar op ’n lyn vir ’n groen verkeerslig staan en wag, is dit Martin se vriendelike wuif of “goeie môre” wat ’n verskil aan ’n mens se dag maak.
Die boodskap op sy T-hemp is duidelik en mens bly wonder wat die volgende dag se boodskap gaan wees.
“Ek doen dit omdat ek voel te veel teoloë, professors en doktors diskrediteer die Woord van God. Hulle hou aan vrae vra oor die bestaan en geboorte van God. Ek voel hulle moet God se bestaan aanvaar en ophou om sy Woord in twyfel trek,” verduidelik dié pa van vyf kinders en oupa van sewe kleinkinders.
Nou het Martin ’n nuwe vriend, George Solomon (29), ’n verkoopsbeampte van Breaunanda in Roodepoort, wat ook sy saak steun.
“Ek het eendag gestap en toe sien George my raak. Hy wou weet waar sy T-hemp is? Toe gee ek vir hom een,” het Martin verduidelik.
George en Martin is dit eens dat dié stappery met ’n doel goeie vrugte dra.
“Hy (Martin) gee my hoop om elke dag aan te gaan,” het George vertel.
Die twee sê hulle sal nie ophou stap vir hul saak tot die dag van hul dood nie.
“Dit is my roeping. Al moet hulle my met ’n rystoel die heuwels opstoot. Aanhou gaan ek aanhou,” sê Martin beslis.
- Mense wat die stappers wil ondersteun, kan Martin kontak by epos: martin.vaneck@absamail.co.za of by 072 954 2044 of op Facebook.