10 artse sê oor parool
2012-02-19 22:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Jan-Jan Joubert en James-Brent Styan
Kaapstad. – Binnekort sal tien dokters op ’n nuwe adviesraad oor mediese parool alle aansoeke van gevangenes om op mediese parool vrygelaat te word, moet nagaan en oorweeg.
Boonop sal enige van die land se 170 000 gevangenes, of hul familie, om mediese parool kan aansoek doen en dié tien dokters sal alles moet nagaan.
Me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van korrektiewe dienste, meen nie administratiewe chaos is die voorland van so ’n stelsel, waarvoor die regulasies op 1 Maart in die Staatskoerant geproklameer word, nie.
Dr. Victor Ramathalese is die voorsitter van die nuwe adviesraad en dr. Angelique Coetzee is die ondervoorsitter.
Die raad het nog nie vergader nie.
Mapisa-Nqakula het die nuwe stelsel gister in ’n voorligtingsessie aan die parlementêre perskorps bekend gestel nadat die bestaande stelsel vir mediese parool die laaste paar jaar hewig onder skoot gekom het, veral weens die vrylating van Schabir Shaik, pres. Jacob Zuma se voormalige finansiële raadgewer en veroordeelde bedrieër.
Nou word mediese parool net aan terminaal siek gevangenes toegestaan en dit word geïnisieer deur medici of personeel van die departement van korrektiewe dienste.
Dit word nie dikwels toegestaan nie en die land se 52 paroolrade besluit oor die aansoeke.
Volgens Mapisa-Nqakula skep dit die geleentheid vir dokters wat bevriend is met gevangenes om mediese parool verkeerdelik toe te staan. “Dit stel die regering bloot.
“Ons wil hê dokters moet die verantwoordelikheid dra sodat parool nie verkeerdelik toegestaan word nie,” het sy verduidelik.
Sy het bevestig dat die tien dokters alle aansoeke sal nagaan en dit sal nie meer slegs terminaal siek pasiënte beskore wees nie.
Daar is ’n lys van aangewese siektetoestande waarvoor parool toegestaan kan word, maar dis nie ’n geslote lys nie. Sy het die versekering gegee dat dit nie vir verkoue of verbeterbare chroniese siektetoestande is nie.
As die regulasies in hul bestaande vorm gepubliseer word, sal enige gevangene wat meen hy of sy is siek genoeg, of hul familie, kan aansoek doen om mediese parool. Die mediese personeel wat nou gevangenes ondersoek en die tersaaklike paroolrade sal steeds aanbevelings doen, maar die tien dokters sal alles moet evalueer en afteken.
Mapisa-Nqakula het aangedui sekere aansoeke om dié mediese parool sal “prioriteit” geniet. Sy is gevra of dié prioriteitsake hoëprofielsake sou wees soos dié van Jackie Selebi, voormalige polisiehoof, maar sy wou dit nie beantwoord nie.
Selebi is verlede week terug tronk toe nadat hy uit ’n private hospitaal ontslaan is waar hy weens nierversaking behandel is.