2 kinders vermis ná rivier hul gryp
2012-01-24 21:43
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Twee laerskoolkinders word nog vermis nadat hulle deur ’n rivier naby Sun City meegesleur is.
Noordwes het gister onder sterk vloedwater deurgeloop ná swaar reën die vorige dag. Tot 95 mm het by Pilanesberg uitgesak.
Mnr. Lesiba Kgwele, woordvoerder van Noordwes se departement van openbare veiligheid, het gistermiddag gesê die soektog deur polisieduikers na die twee kinders moes vir eers afgelas word omdat die rivier in die Moruleng-gebied nog te swaar vloei.
Die kinders is omstreeks 07:00 meegesleur toe hulle die Makgawerivier, wat in vloed is, oorgesteek het op pad skool toe.
13 skoolkinders moes in ’n ander voorval uit ’n minibus gered word toe die voertuig naby Mogwase in die Rustenburg-omgewing deur water meegesleur is.
In ’n derde voorval in dieselfde omgewing het ’n pa sy twee kinders uit hul Ford Icon gered toe die voertuig onder vloedwater beland het, het Kgwele gesê.
Intussen het polisieduikers gister die lyk van ’n onbekende man, vermoedelik ’n slagoffer van verlede week se vloede, uit die Blyderivier buite Hoedspruit gehaal, berig
Marietie Louw-Carstens.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê die motor wat Donderdag deur vloedwater weggespoel is, is nog nie gekry nie.
Polisieduikers se werk is bemoeilik deur krokodille in die rivier.
“Ons kan nie nou al sê of die man moontlik in die motor was nie.”
Die Maruleng-munisipaliteit, wat Hoedspruit insluit, is tot rampgebied verklaar. Die gebied is verlede week grootliks van die buitewêreld afgesny toe swaar reën uitgesak het.
Die Olifants- en die Blyderivier se walle het oorstroom.
Me. Tseng Diale, woordvoerder van die departement van samewerkende regering in Limpopo, het gesê die Mulalani-nedersetting en Kampersrus val ook binne die Maruleng- munisipale grense.
Dié gebiede is ook tot rampgebied verklaar. Sowat 200 gesinne is erg deur die vloede geraak.
Swaar reën het eergisternag ook oor die Pretoria-gebied uitgesak en gister vroegoggend is verkeer erg ontwrig.
Meer as 60 mense is in ongelukke beseer en laagwaterbrûe in die Centurion-gebied het oorstroom.