2 roofvoëls hoër op bedreig-lys
2011-06-09 23:18
Twee roofvoëls wat ook in Suid-Afrika voorkom, is pas opgeskuif na hoër beskermingskategorieë op die internasionale rooidatalys.
Die sekretarisvoël en die monnikaasvoël was albei in die kategorie van voëls oor wie daar die minste kommer was.
Nou word die sekretarisvoël as kwesbaar en die monnikaasvoël as bedreig beskou.
Volgens mnr. André Botha van die Trust vir die Bedreigde Natuurlewe se roofvoëlwerkgroep is dit veral in Wes-Afrika en dele van Oos-Afrika waar dié spesies onder druk is.
Voorlopige bevindings in die Suid-Afrikaanse voëlatlasprojek het daarop gedui dat sekretarisvoëls ook in Suid-Afrika minder word.
Dertig tot 40 jaar gelede was monnikaasvoëls baie algemeen in verskeie Afrika-stede.
Weens burgeroorloë in lande soos Sierra Leone het kos egter skaars geraak en mense het selfs aasvoëls gevang en geëet.
Vergiftiging en die vang van dié voëls vir gebruik in tradisionele medisyne is ook ’n knelpunt. Van die grootste gevare vir sekretarisvoëls hou verband met die agteruitgang van grasvelde waar hulle tuis is.
Dit gebeur weens verstedeliking, die benutting van dié veld vir landbou en oorbeweiding.
– Neels Jackson

’n Monnikaasvoël. Dié aasvoëlsoort word nou internasionaal as ’n bedreigde spesie beskou.
Foto: Neels Jackson