Die man wat sy ma verwurg en haar lyk twee dae lank in haar kamer
versteek het terwyl hy en sy sesjarige dogtertjie normaalweg in die huis
voortgegaan het, is gister vir 23 jaar lank tronk toe gestuur.
Wayne Klaus Curtin (35) het vroeër beken dat hy sy ma, me.
Beverley-Anne Curtin (57), op 2?Julie 2010 in die oprit van hul huis in
Fontainebleau, Randburg, ná ’n rusie instinktief met sy hande en later ook met
’n tou gewurg het. Twee dae later het hy aan ’n pastoor gebieg en homself
oorgegee.
Curtin het by monde van sy regsverteenwoordiger, adv. Anneline
Roestorf, in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer hy het die moord in ’n
woedebui gepleeg en nie met voorbedagte rade nie.
Die staat het aangevoer Curtin het in die tyd tussen die eerste en
tweede wurgery besluit om sy ma dood te maak.
’n Sielkundige het getuig Curtin ly aan ’n marginale
persoonlikheidsversteuring en dit sou vir hom moeilik wees om logies te dink
terwyl hy so kwaad was.
Regter Margaret Victor het beslis dat Curtin die moord nie met
voorbedagte rade gepleeg het nie, maar het in haar uitspraak verskeie kere gesê
moedermoord is ’n afskuwelike misdaad.
Roestorf het aangevoer daar is goeie redes om ’n ligter vonnis as
die voorgeskrewe minimum, 15 jaar tronkstraf, op te lê. Sy het Curtin se
persoonlikheidsversteuring en die beweerde uitlokking deur sy ma aangevoer.
Curtin het vroeër getuig sy ma het hom begin slaan en haar vinger in sy neus
gedruk, waarop hy haar begin wurg het.
Victor het gesê sy kan dít nie glo nie. Die gesinsopset was
duidelik wanfunksioneel en huishoudelike geweld het voorgekom, maar daar was
geen tekens dat Curtin se ma hom voor die moord fisiek aangeval het nie, het sy
gesê.
Victor het beslis ’n veel swaarder vonnis as die voorgeskrewe
minimum is gepas.
Sy het gesê Curtin moet ’n lang tyd in die tronk deurbring om sy
impulsiwiteit en onbeheerste woede te leer hanteer.
Daarop het sy Curtin tot 23 jaar tronkstraf gevonnis. Sy het ook sy
aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis verwerp.