3 rowers vermoor bejaarde op hoewe
2010-09-28 10:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Afgetrede motorwerktuigkundige van Bronkhorstspruit is Saterdagnag tydens ’n rooftog deur vermoedelik drie rowers in sy huis vermoor.
Mnr. John Staples (79) is op die Roodepoort-kleinhoewe, buite Bronkhorstspruit, doodgeslaan.
Mnr. Sarel van der Walt, Staples se skoonseun, het gister gesê die presiese omstandighede van die moord is nog onbekend.
“Dit lyk of hulle een van die deure oopgebreek en my skoonpa in sy bed oorrompel het,” het Van der Walt gesê.
“Die polisie ondersoek nog die saak, maar dit lyk of hulle hom met iets geslaan het.”
Staples, wie se vrou, Nellie (84), twee jaar gelede oorlede is, het alleen gewoon. Mev. Elise van der Walt het gesê haar pa se handwapen word vermis.
Sy vermoed die rowers het hom gedwing om sy kluis oop te sluit.
“Ons is nog nie seker wat anders hulle als gevat het nie, maar my pa se beursie is leeg, so hulle het seker die kontant wat daarin was, ook gesteel.”
Volgens haar was haar pa ’n bekende in die dorp en sal baie mense hom mis.
“Wat kan ’n mens nou sê? Daar is niks om te sê daaroor nie – ek is net verslae.
“Ek weet dit gaan hom nie weer lewend maak nie, maar ek hoop hulle vang my pa se moordenaars sodat hulle nie dieselfde aan iemand anders sal kan doen nie.”