300 van SA betoog in Londen teen misdaad
2010-05-16 23:23
Londen. – Met die geskal van vuvuzelas en krete van “No more crime! ” het sowat 300 Suid-Afrikaners eergisteroggend voor die Suid-Afrikaanse ambassade op Trafalgar Square teen misdaad in hul vaderland betoog.
Betogers het van so ver as Wallis en Skotland vir die optog gereis.
Die optog is met twee Suid-Afrikaanse vlae en ’n groot wit kruis met die woorde “Stop Farm Murders” deur die middestad gelei. Al die betogers het rooi T-hemde gedra en talle het wit kruise of plakkate met die name van misdaadslagoffers omhoog gehou. Hulle het “Nkosi Sikelel’ iAfrika” gesing en “Enough is enough” en “Ons is gatvol, lekker gatvol” gedreunsing.
Mnr. Vaughn Stoman het aan die skare, asook verbygangers, gesê: “Hoekom kyk julle sokker te midde van ’n bloedbad? Julle het tydens apartheid ’n gewete gehad. Waar is jul gewetens nou?”
Ná afloop van die byeenkoms het die betogers hul plakkate en kruise voor die ambassade gelos.
Die optog is egter voorafgegaan deur ’n erge gekibbel op die internet oor ’n regse geurtjie.
Die afgelope week was daar ’n getwis op Facebook, met ’n paar individue wat mnre. Ivan Cornelius en Harry Smithers, die organiseerders, se motiewe bevraagteken het. Ene Khoi San meen hulle het mense om die bos gelei om te dink dis ’n optog teen misdaad, “terwyl hulle eintlik soveel moontlik mense wou kry om teen die ‘uitwissing van wit Suid-Afrikaners’ te betoog”.
Volgens dié skrywer sou die optog die land “verder verdeel”, want dit sou ’n vals boodskap oor rasseverhoudinge verkondig. Die menseregte-aktivis
Zackie Achmat het op Facebook gesê hy glo die optog is deur “rassiste en fasciste gereël, wat wit mense se pyn, vrees en woede uitbuit”.
Na aanleiding van ’n artikel deur Gavin Silber waarin hy beweer Smithers en Cornelius is lede van Facebook-groepe soos “Die Vierkleur”, “Die Ou Suid-Afrika” en “Ossewa Brandwag”, wou Achmat onder meer van die organiseerders weet of hulle hulself openlik sal distansieer van alle rassiste, fasciste en sodanige groepe.
Sy vrae is nooit direk beantwoord nie, maar die organiseerders het herhaaldelik beklemtoon dat die optog ’n bewusmakingsveldtog en verteenwoordigend van alle Suid-Afrikaners sou wees.
Hulle het ook bly versoek dat mense net die huidige Suid-Afrikaanse vlag saambring.