ANC wil media met totale aanslag in bek ruk
2010-07-29 22:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Die ANC beoog ’n totale aanslag teen die gedrukte media wat hy met wetgewing en ondersoeke in die bek wil ruk.
Die besprekingsdokumente vir die regerende party se nasionale hoofraadsvergadering in September is pas uitgereik. Hieronder tel ’n dokument met die titel “Transformasie in die media, eienaarskap en diversiteit”.
Dit skets die roete wat die ANC wil volg teen die “neo-liberale” media wat die regering as “swak en passief” uitbeeld, “individue se regte oorbeklemtoon” en “fundamentalisties markgedrewe” is. Die ANC stel dit prontuit dat “wetgewing en ingryping” nodig is om ’n diverse media in die land te verseker.
Die besprekingsdokumente volg op die omstrede voorgestelde wet op die Beskerming van Inligting wat die staat sal magtig om enige sensitiewe inligting te klassifiseer en joernaliste swaar te straf.
Luidens die dokumente is veral die gedrukte media ’n doring in die party se vlees weens berigte waarin selde positief oor die regering verslag gedoen word. “’n Oppervlakkige opname van die gedrukte media onthul ’n verbysterende graad van oneerlikheid, ’n gebrek aan professionele integriteit en onafhanklikheid.”
Volgens die ANC ontvang korrupte verslaggewers geld om sekere politieke agendas te bevorder en is dié “verrotting” baie erger as wat die media wil erken.
Die party het veral ’n probleem daarmee dat vertroulike inligting ná geslote partyvergaderings aan die media uitlek. Die dokumente lui voorts dat regstellings nooit voldoende prominensie kry nie en dat die persombudsman (selfregulering) onvoldoende is.
“Dié situasie is onhoudbaar”. Die ANC meen ge- volglik dit is sy plig om in te gryp om die media se geloofwaardigheid te beskerm.
Voorts is ’n verantwoordelike en regverdige media ’n kernaspek van die ANC se nasionale demokratiese revolusie en word sekere voorstelle gedoen:
- 'n Onafhanklike media-appèltribunaal om klagte teen die gedrukte media – koerante en tydskrifte – aan te hoor. Die media sal hier verantwoording doen en gestraf word. Die voorstel behels dat die parlement deur middel van openbare verhore moet ondersoek instel of só ’n tribunaal met staatsgeld gefinansier moet word en aan die parlement verslag moet doen. Voorts moet die parlement die tribunaal se mandaat en magte bepaal.
- Die parlement moet ook ondersoek instel na die eienaarskap van en beheer oor die gedrukte media, die uitdagings wat dit stel en “wat gedoen moet word om die situasie om te keer”.
- Spesiale wetgewing om mededinging in die gedrukte media te bevorder, moet ondersoek word.
- Die Mededingingskommissie moet betrek word om monopolieë en prysvasstelling te ondersoek.
- Die parlement moet ook ondersoek instel na die noodsaaklikheid van ’n handves wat vereistes aan maatskappye in die gedrukte media stel oor swart ekonomiese bemagtiging en transformasie.
Bogenoemde voorstelle sal in Durban bespreek word wanneer ’n paar duisend ANC-afgevaardigdes vergader om bestekopname te doen oor die party se vordering sedert sy nasionale konferensie in 2007 in Polokwane.