Bejaarde hop kaal na hulp
2011-05-15 21:28
Lichtenburg. – ’n Bekende boer en sakeman van die omgewing en sy vrou is gisteroggend in hul plaashuis oorval, vasgebind en aangerand.
Mnr. Ferenc Nagy (71), eienaar van die Wimpy in Koster, is omstreeks 04:00 op sy plaas, ongeveer 25 km buite Lichtenburg, oorval.
Hy en sy vrou, Klein (67), het geslaap toe vermoedelik ses gewapende mans ’n buitedeur en daarna hul kamerdeur oopgedwing en die twee bejaardes in hul slaapkamer oorval het.
Die egpaar se hond, twee katte en hoenders wat vry op die werf rondloop, is vergif.
Mnr. Ewert du Preez, lid van die plaaslike boerevereniging, het gesê die mans het ysters en koevoete gebruik om by die huis in te kom.
Volgens hom is die egpaar erg verneder en aangerand en hulle is baie geskok.
“Hulle is albei vasgebind. Hulle het mnr. Nagy kaal laat uittrek.
Hy is met ’n skokmasjien geskok en dit het onder meer brandmerke op sy lyf gelaat. Hy is aangerand en sy gewrigte by sy hande en voete is erg geswel.
“Nadat die ses gevlug het, moes hy kaal en met vasgebinde voete sowat 700 m ver hop tot by sy plaaswerkers se huise om hulp te kry.
“Dit is ongelooflik vernederend dat jou werkmense jou so moet sien.
“Hoe lank gaan dié dinge nog gebeur? Dit kan nie so aangaan nie. Elke keer as ’n boer gaan slaap, wonder hy wanneer so iets met hom kan gebeur,’’ het Du Preez gesê.
Mnr. Nagy is in ’n private hospitaal opgeneem vir toetse en X-straalfoto’s.
Ao. Sam Tselenyane, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het twee pistole, juwele, selfone en geld gebuit.
Nog ‘n boer, mnr. KP van der Walt, ’n hoenderboer in die Koster-omgewing, is gister op sy plaas oorval deur sowat ses mense.
Hy is glo ook aangerand. Die aanval het sowat 70 km vanaf Nagy se plaas gebeur.
Mnr. Gert Richter van burgerlike beskerming op Lichtenburg, het gesê dit is moontlik dieselfde aanvallers.
“Ons kan dit nie onomwonde sê nie. Die polisie is nog besig met hul opvolgwerk.”
Mnr. Nagy is gistermiddag in ’n private hospitaal opgeneem vir toetse en x-straalfoto’s.