Aardbewings kan oor water ál erger word
2010-09-02 00:06
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Inwoners van die Witwatersrand mag in die toekoms dalk groter en meer aardbewings ervaar weens die styging van die ondergrondse water in die uitgemynde komme.
Dit is onseker wat regtig gaan gebeur, maar die moontlikheid bestaan dat aardbewings meer dikwels in Johannesburg gaan voorkom en dat van hulle tot 5 op die Richterskaal kan registreer, het mnr. Olaf Goldbach, geofisikus van die WNNR, gister gesê.
Hy het by die WNNR se tweejaarlikse beraad oor die relevansie van die wetenskap en die toepassing van navorsing gepraat.
Volgens Goldbach is dit noodsaaklik dat navorsing dringend oor die verband tussen die stygende watervlakke en die toename in seismiese aktiwiteit gedoen word omdat dit verreikende gevolge vir mense en infrastruktuur, soos geboue en paaie, inhou.
“Dit het weer geldelike gevolge vir versekeraars as geboue skielik inmekaartuimel.”
Hy het verwys na die aardbewing verlede Donderdagaand wat dele van die Witwatersrand geskud het en gesê hy meen dit het verband gehou met die stygende watervlakke.
Dié aardbewing het 2,8 op die Richterskaal geregistreer en huise se dakteëls laat afval.
“Ek het net ná 21:00 Donderdag in my huis in Weltevredenpark gesit en TV kyk toe die aarde begin bewe. Ek dink regtig ons gaan meer daarvan in die toekoms ervaar,” het Goldbach gesê.
Hy het eers die volgende dag uitgevind die aardbewing se episentrum was 11 km suidwes van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
Goldbach het gesê mynbouverwante aardbewings is algemeen in Suid-Afrika en tog weet inwoners nie wat om te verwag nie.
Hy meen aardbewings wat 5,3 op die Richterskaal registreer, soos die een in Welkom in 2005 waarin twee mense dood is en talle huise strukturele skade opgedoen het, is dalk die Witwatersrand se voorland.
In die omgewing van die Katzedam het aardbewings ook voorgekom kort nadat die damwal voltooi en terwyl dit met water gevul is.
Volgens Goldbach sal die regering dringend na seismiese aktiwiteit moet kyk, tesame met die vernietigende invloed wat suur mynwater vir die omgewing inhou.
Die jongste navorsing dui daarop dat die mynwater op sommige plekke tussen 400 m en 500 m van die oppervlak is en teen byna 1 m per dag styg.
Goldbach het daarop gewys dat dit na raming R1 miljard gaan kos om permanente infrastruktuur vir die uitpomp van die water op te rig, terwyl die uitpomp maandeliks sowat R8 miljoen sal kos. “Wie gaan dit betaal? Waarskynlik die belastingbetaler omdat die mynbase lankal weg is.”